BYBELSTUDIE 2 Samuel - Inleidend

Inleidende opmerkings

Welkom terug, of dalk vir die eerste keer, by ons Dinsdag/Vrydag-Bybelstudie[1].  Ons vertrou jy gaan die jaar se Bybelstudie geniet!  Ons het verlede jaar 1 Samuel bestudeer, en gaan hierdie jaar verder met 2 Samuel.  Onthou asseblief dat 1 & 2 Samuel nie in die oorspronklike in twee gedeel is nie[2], maar een boek is, met ’n eie skerppunt – om te vertel van God se vestiging van sy volk – waaruit die Messias gebore is.  Dit is nie ’n idealistiese prentjhie wat geteken word nie, maar realisties.  Die groot hoogtes waartoe mense styg wat God se wil soek, word geteken, maar ook die diep dieptes waartoe daardie selfde mense kan daal as hulle nie God se wil soek nie, en natuurlik ook die hartseer van mense wat “doen wat nie goed is in die oë van die Here” nie.  Maar in dit alles moet mens die “groot prentjie” soek, sodat daar nie gefokus word op enkele “stories” wat die aandag trek nie, maar die groter verlossingsplan van God raakgesien word.  Die Messiaanse karakter van die Ou Testament moet ook nie uit die oog verloor word nie – alles in die Ou Testament loop uit op die geboorte van ons Here Jesus Christus.

Belangrike sake om na op te let

Geskiedenis in die Ou Testament

Groot dele van die Bybel (Ou Testament en Nuwe Testament) bevat geskiedenis[3].  Maar geen geskiedenis is blote feite nie – daar is ’n gesigspunt, ’n interpretasie aan verbonde.  Geskiedenis vertel ook baie van die geskiedskrywer!

So is dit ook in die Bybel.  Die geskiedensi is uiteengesit om ’n punt te maak – maar in die geval van die Bybel, God se punt!  In die groter perspektief gaan dit in die Bybel oor die perspektief van die mens: wie is hy, waar kom hy vandaan, waar gaan hy heen.  En die kort antwoord is: hy is geskep deur God om God te verheerlik. Maar deur die indringing van die sonde in die mens se lewe, verloor die mens hierdie God-gerigtheid en dink hy dat hy self die koning is, terwyl die menslike lewe eintlik deur die Satan gekaap is.  En nou vertel die Bybel verder, hoe God hierdie saak regstel – deur die offer van sy Seun aan ’n kruis op Golgota.  En dat die herstelde mens weer God verheerlik, al is dit met rukk en stote, tot die dag wat Christus terugkom en die Godsregering in ere sal herstel.  Hierdie perspektief word pertinent in 2 Tim 3: 16/17[4] uiteengesit, waar “hele Skrif” primêr op die Ou Testament wys!

Maar die Woord is geïnspireer, wat sê dat die perspektief van die geskiedskrywer nie sy eie is nie, maar God s’n!  Dit impliseer ook dat die Bybel in spesifieke tye, omstandighede, kulturele agtergronde en situasie geskryf is, maar nogtans daarbo uitstyg, en God se beginsels deurgee.

Chronologie in geskiedskrywing

In die lig hiervan, kan mens verstaan dat die Bybelskrywers nie daarop uit is om gebeure chronologies te rangskik nie, maar só dat dit die gedagtelyn ondersteun.  So het ons reeds teen die einde van 1 Samuel gesien dat die gebeure “geskommel” is, sodat die groter lyn van die Here se lyn met Dawid sigbaar word.  Dit wil sê: Dawid se plaaslike oorwinning oor die minder bedreigende Amelekiete is van grote belang in die loop van die geskiedenis as Saul se nasionale neerlaag teen die groter vyand van die Filistyne!

Voortgaande ontwikkeling in 2 Samuel

In 2 Sam word daar drie lyne voortgesit wat reeds in 1 Samuel hulle bekend gemaak het.

Die ontwikkeling van die teokratiese Dawidiese monargie.  Die totstandbrenging van hierdie monargie word in twee apekte sigbaar:   

  • Dawid wat koning word van ’n verenigde Israel.Sy Christologie in Ps 18, wat ook in 1 Sam 22 aangetref word.
  • b. Saam met hierdie Christologiese vergesig(te) gaan ook die verbondsperspektiewe (vgl 2 Sam 7 en 2 Sam 23:1-7).
.  Die absolute soewereiniteit van God.  Mense kan beplan, maar God stuur hulle en die geskiedenis waarheen Hy wil!  Hierdie aspek word in twee aspekte van Dawid se lewe wat in 2 Sam na vore kom baie sigbaar:
  • Die sonde met Batseba.  Dawid faal, maar God se genade herstel hom en rig hom weer op.  Die pad eindig nie by en deur die sonde nie.
  • Die opstand deur Absolom.  God bewaar en versorg, sodat Sý plan ten uitvoer gebring word.

Dit is byna of jy die stryd van ons sonde, afgespeel teen God se eise van heiligheid, kan sien in hierdie gebeurtenisse.  In al hierdie dinge, sy sonde ingesluit, speel sonde ’n rol om Dawid by God se doelwtte uit te bring.  Die sonde probeer die Here “dwarsboom”, maar al wat dit doen is om ’n geleentheid vir God se oordeel te skep, of so nie oorwinning vir bevrydende liefde.

Derdens word die gewisse triomf van God se geregtigheid uitgewys.  Boosheid word voortdurend oorwin in die pad van God met israel.  En mens kan dit selfs in die hedendaagse geskiedenis sien.  Boosheid kom tot ’n val.  Jy sien dit selfs in “empires” van kwaad, dink aan ’n ou Romense Ryk of selfs die bose “Derde Reich”van Hitler.  Dink hoe die Here in die oorloggeteisterde Suid Korea voorspoed bring wat saamgaan met die sterkste ontwikkeling van die Christendom in die moderne tye! Mens moet dus inderdaad nie net teen die slegte dinge in die koerante vaskyk nie, maar God se voortdurende triomfe raaksien.

Slot

Al hierdie dinge sal vir ons helder word in die weke wat voorlê.  Mag God ons seën in ons studie! Vir die volgende geleentheid, lees asb 2 Samuel 1:1-27.



[1] Hierdie notas is gebaseer op die werk van Gordon J Keddie, Triumph of the King, in die Welwyn reeks van kommentare, uitgegee deur Evangelical Press.

[2] In die Griekse en Latyse wergawes was daar van die vroegste tye af ’n skeiding, maar in die Hebreeuse teks het die skeiding eers ontstaan in die 16e eeu na die boekdrukkuns uitgevind is en daar om tegniese redes ’n skeiding gemaak is.

[3] Ons praat van “Openbaringsgeskiedenis”.

[4] Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek,  sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.