Philippians 1:1 Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.

2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Inleiding

Hartlik welkom by hierdie Bybelstudie[1]. Ons gaan in die volgende weke DV deur Filippense werk – en sien hoe mens blydskap in die Here kan ervaar ten spyte van allerlei omstandighede wat mens neertrek.  Paulus is in die tronk, maar tog is ʼn sentrale motief juis die blydskap in die Here!

Die stigting van die kerk in Masedonië (=Griekeland) word in Hd 16 beskryf.  Paulus sien in ʼn gesig ʼn man wat na hom roep om die Evangelie ook na hierdie wêrelddeel te bring.  In Hd 16: 13 word spesifiek genoem dat hierdie ʼn belangrike stad in die gebied was – juis omdat dit ʼn kolonie van Rome was en dit het geïmpliseer dat die stad hanteer is soos Romeinse grond. Al die inwoners het ook regte gehad soos Romeinse burgers.  Die stad was dus ʼn belangrike invalspoort vir die Evangelie.  Dit was hier wat Lidia tot bekering gekom het en dit was ook die aanvang van die plaaslike Christelike gemeente in Filippi.  Twee ander groot insidente word genoem – die slawemeisie wat ʼn bose gees gehad het en die tronkbewaarder wat tot bekering gekom het.

Hierdie besoek het waarskynlik plaasgevind in 51 nC.  12 jaar later neem Paulus die pen op om hierdie brief aan die gemeente te rig.  Nou is hy ʼn gevangene in Rome.  Paulus was minstens twee keer in Rome ʼn gevangene.  Die laaste keer het dit op sy dood uitgeloop.  Dit lyk of hierdie die ander (eerste keer) was, en hy is in huisarres met sekere vryhede.

Die skrywer

Die skrywer identifiseer homself duidelik as Paulus.  Dit hoef nie verder gekwalifiseer te word nie, almal weet wie bedoel word.  Daar was van tyd tot tyd mense wat Paulus se apostelskap ontken het (hy was mos nie deel van die 12 nie), en daarom verwys hy soms na homself as “Paulus, ʼn apostel...”.  Maar hier noem hy homself eenvoudig: “ ’n dienaar” – saam met Timoteus.  Die woord wat gebruik word, is letterlik “slaaf”.  Hierdie verwysing gebruik hy omdat die Filippense nie sy gesag ontken nie en dit ʼn assosiasie te weeg bring – dat hulle saam Jesus se saak op die hart het.  Dit word spesifiek genoem dat Timoteus saam met Paulus is as hy die brief skryf – hy was in Filippi toe die gemeente gestig is, en minstens een keer daarna weer.  Hy is nou ook saam met Paulus in Rome as die brief geskryf word.

Oorsig oor die rede vir die skrywe

(1) Hy laat weet hoe dit mnet hom gaan (sy omstandighede);

(2) Hy dank hulle vir die geskenk (geld) saam met Epafroditus gestuur;

(3) Hy verseker hulle dat Epafroditos, wat siek geword het, nou gesond genoeg is om huis toe te gaan;

(4) Hy moedig hulle aan om hulle Christelike verpligtinge op te neem;

(5) Hy waarsku hulle teen dwaalleraars.

Die geadresseerdes

Die brief word gerig aan die al die heiliges in Filippi.  Daar is nogal klem op die al/almal, niemand wat uitgelig word nie (:7, 8, 25).  “Heiliges” word hier nie gebruik om sondeloosheid aan te toon nie, maar die gebruik gaan terug op die konsep van afgesonder/opsy gesit.  Gelowiges is anders as die wêreld omdat hulle vir die Here afgesonder is.  Hulle is afgesonder om God te verheerlik en die Evangelie uit te dra.

Hierdie heiliging kan net plaasvind deur die geloof in Christus Jesus.  Daarom verwys hy na homself, Timoteus en die gemeente in die verbintenis met die opgestane Here Jesus.

Hy noem ook die opsieners en diakens.  Die opsieners is “episkopoi”, waar “biskop” vandaan kom. Dit si iemand wat waak oor mense.  Dit is ʼn alternatief vir “ouderling” en moenie gekonstrueer word as verskillende van “ampte” in die kerk nie.  Dit beskryf ʼn spesifieke aspek van die ouderlinge se werk – nl om toe te sien dat almal lewe waardig aan hulle roeping.  Vgl Hd 20: 17, 18.

Verder is dit opmerklik dat hy nie praat van die opsieners en diakens “oor” die gemeente nie, maar “en”.  Ons moet loskom van die idee dat leiers “oor” die gemeente heers – hulle is dienaars in die naam van die Koning van die kerk.  Hulle is sáám met die gemeente op pad.     Hy noem hulle ook ná hy na almal verwys het. Juis om aan te toon dat die geméénte belangrik is.   Tog is dit ook belangrik om daarop te let dat die opsieners ʼn baie belangrike plek in die gemeente het – al is daar nie pastors (herders en leraars) nie, vind die gemeente sy kontinuïteit in die opsieners.  ʼn Gemeente het nie dominees nodig nie, maar wel ouderlinge en diakens wat die praktiese belewing van die eenheid moet bevorder.   Hierdie is die enigste plek waar die diakens so saam met die ouderlinge genoem word.

Die groet

Genade en vrede vir julle... .  Genade het verskeie skakeringe van betekenis, maar dit gaan veral oor die onverdiende uitdeel deur God van sy goedhartighede teenoor mense wat eintlik sy woede moes ontvang.  Dit kom neer op die wegneem van die sondeskuld en in die plek daarvan die vryspraak wat gegee word.  Vrede is die manier waarop shalom van die Ou Testament vertaal word.  Dit gaan oor ʼn innerlike gemoedstand – een van tevredenheid by God.  Dit is dus meer as net die ontbreek van spanning, dit gaan eerder oor rus wat by God gevind word.   Daar word soms onderskei: Vrede met God en vrede van God.  By lg is God die Gewer van die vrede.  Dit is wat die Vader gedoen het deur Jesus Christus.  Here beteken “eienaar/besitter”.  Jesus word Here genoem omdat Hy ons gekoop het uit die mag van die Satan.

Slot

Dit is hierdie seën wat elke week oor die heiliges in Benoni uitgespreek word.  Jy is arm as jy dit nie kom ontvang nie!



[1] Die hoofbron vir hierdie Bybelstudie is “Shining in the Darkness”, in die Welwyn kommentaarreeks, geskryf deur Michael Bentley.  Ander bronne word ook gebruik, meestal uit die program “Logos”.  Daar word selde na die spesifieke bronne verwys.