| ‘N OPENHARTIGE ANTWOORD OP ‘N OPE BRIEF Dr Wim Vergeer Dr Jacques Howell se skrywe: Hoe het ons gekom waar ons tans is? het betrekking. Die skrywe is per e-pos aan individue gestuur, op die GKSA poslys geplaas en het ook die openbare pers bereik. In die skrywe eien dr Howell homself die reg toe om belydende lidmate van die GKSA te vra om liewer die kerkverband te verlaat. Dit geld dan veral vir dié lidmate wat oortuig is dat die Skrif geen beletsel plaas op vroue in besondere dienste nie. Behalwe hierdie aanmatiging, bevat sy skrywe eenvoudig te veel veralgemenings, bewyse van onkunde, verdagmakery en onwaarhede om te verdra. Ek het geen behoefte aan ‘n polemiek met dr Howell nie, erken hom as broer en hou van hom as persoon, maar meen dat ter wille van die goeie saak waarvoor ons ons beywer en die integriteit van die persone wat daarby betrokke is, ‘n reguit antwoord gegee moet word op enkele sake wat hy in sy “Ope Brief” aan die orde stel. Ek bied dus ‘n openhartige reaksie op sy “Ope Brief” en maak daarin die volgende stellings: 1. Dr Howell weerspreek ‘n duidelike Gereformeerde hermeneutiese beginsel wat vir eeue erken word 2. Dr Howell bedien homself gerieflik van die Skrifbeskouing wat hy aan vrysinnigheid en relativisme verbind 3. Dr Howell se uitsprake in sy “Ope Brief” is in stryd met bestaande Sinodebesluite en in sy weerstand teen hierdie besluite volg hy nie die kerklike weg nie 4. Dr Howell bied ‘n selektiewe uitsig op die posisie van die vrou in die kerk en die saak van die vrou in die besondere dienste 5. Dr Howell maak hom in sy skrywe aan liefdelose verdagmakery skuldig wat grens aan oortreding van die negende gebod 1. Dr Howell weerspreek ‘n duidelike Gereformeerde hermeneutiese beginsel wat vir eeue erken word In sy “Ope Brief” meen dr Howell dat persone wat oortuig is dat die Skrif geen beletsel plaas op vroue in die besondere dienste nie, ‘n nuwe/veranderde/vrysinnige/relativistiese[1] Skrifbeskouing gebruik. Hierdie grondliggend ander Skrifbeskouing word dan (volgens hom) gekenmerk deur die feit dat dit nie meer “die Skrif en die Skrif alleen” is nie, maar dat tydsomstandighede of “Sitz in Leben”(sic) toegelaat word om ‘n rol in die eksegese en hermeneutiek te speel. Hierdeur skep dr Howell ‘n valse teenstelling. Om die teks van die Bybel op ‘n wetenskaplike en geldige wyse in konteks te verklaar, en die ”Sitz im Leben” in die verklaring in berekening te bring, was van meet af aan deel van Gereformeerde Hermeneutiek. Die lyn begin baie duidelik by Calvyn (Augustinus) en loop deur na bekende Gereformeerde eksegete soos Greijdanus, Coetzee, Floor, De Klerk, Van der Walt ens. Deurgaans (ook in baie rapporte wat voor verskillende Sinodes van die GKSA gedien het) word erken en bely dat die Skrif “tydgerig en nie tydgebonde” is nie en dat die verantwoordelikheid daarom juis op die eksegeet rus om die teks van die Bybel eers in die konteks van die eerste hoorders/leser te verklaar en dan die betekenis vir vandag uit te lê. Om in ‘n openbare brief te lees hoe ‘n hooggekwalifiseerde Gereformeerde teoloog hom beywer vir ‘n hermeneutiek waarin die “Sitz im Leben” geen rol moet speel nie, is wetenskaplik gesproke, eintlik ‘n bietjie van ‘n verleentheid. Om dan sodanige (inderdaad biblisistiese) hermeneutiek verder te wil verhef tot die enigste ware Gereformeerde Hermeneutiek, is m.i. verregaande. Wanneer (soos in die geval van die saak van die vrou in die besondere dienste) wetenskaplike getuienis aangebied word waarom ‘n bepaalde Skrifuitspraak in die konteks van die eerste hoorders anders verstaan moet word (as wat aanvanklik/tradisioneel gedink is), is dit baie maklik om hierdie getuienis bloot te ignoreer of verdag te maak met woorde soos vrysinnigheid en relativisme, of met opmerkings soos: nou is dit nie meer die Skrif alleen nie. Terselfdertyd getuig so ‘n opmerking van eksegetiese traagheid (luiheid). Die eerbare (moeiliker) weg is om wetenskaplike argumente met wetenskaplike teenargumente te vergelyk en te weeg - en om sodoende op ‘n verantwoordbare wyse tot ‘n geldige bevinding te kom oor die betekenis van die teks van die Bybel in konteks. ‘n Eenvoudige (nie-emosionele) voorbeeld hiervan is die Skrif se getuienis oor die tyd waarneer Jesus gesterf het. Die Grieks sê letterlik dat duisternis oor die hele aarde gekom het “tot die negende uur toe” (Luk 23:44). So het die OAV[2] dit ook vertaal - wat die indruk wek dat Jesus se sterwensuur ongeveer 09:00 was. Kennis van die “Sitz im Leben” bring egter die insig dat die Jode die ure nie van middernag af getel het nie, maar van sonop af. Derhalwe vertaal die NAV geldig dat die duisternis “tot drie-uur” geduur het. Waarom sou dit eksegeties toelaatbaar wees om aan te dui dat die Jode nie tyd hou op dieselfde manier as wat ons vandag tyd hou nie, maar ontoelaatbaar vrysinnig wees om aan te dui dat vroue in die tyd van die NT hulle onderdanigheid aan hulle eie mans op ‘n ander wyse getoon het as wat vandag die geval is? Die eksegetiese metode wat gebruik word, is immers in beide gevalle presies dieselfde! Dr Howell demoniseer die gebruik van hierdie metode in die vroue-debat as vrysinnig - wil ek beweer - nie omdat die metode self so omstrede is nie - maar omdat die resultate daarvan nie inpas by sy eie vooraf ingenome standpunt oor die vrou in die amp nie. Dr Howell bedien homself gerieflik van die Skrifbeskouing wat hy aan vrysinnigheid en relativisme verbind Ek sou wou vra of die mans in die gemeente waar dr Howell dien, in die eredienste met hulle hande omhoog staan en bid, en kan seker met veiligheid aanneem dat dit nie die geval is nie. Tog is daar ‘n duidelike Skrifuitspraak wat beveel dat mans “op elke plek moet bid en heilige hande moet ophef sonder toorn en twis” (1 Tim 2:8, OAV). Die rede wat aangevoer kan word waarom ons hierdie Skrifopdrag nie net so uitvoer nie, is omdat die nie meer vandag (onder Gereformeerde mans) die gebruik is om met hande in die lug te staan en bid nie. Ook die konteks van die hedendaagse leser oefen dus invloed uit op hoe ons die Skrif verstaan en gehoorsaam. Dr Howell laat hom seker die eietydse aanbiddingspraktyk van die mans in sy gemeente welgeval. Maar waarom noem hy dit dan vrysinnigheid en relativisme as eksegete betoog dat die Skrifopdragte rakende voorkoms, kleding, haarstyl en sosiale gedrag van vroue wat in die direk daaropvolgende verse (1 Tim 2:9-12) aan die orde kom, ook nie vandag sonder meer net so uitgevoer en toegepas kan word nie. Onbewustelik bedien dr Howell hom dus - wanneer dit hom pas - van dieselfde Skrifbeskouing en eksegese as wat hy so gemaklik aan vrysinnigheid en relativisme verbind en wat volgens hom sulke verreikende gevolge het dat mense wat dit toepas eerder die kerk moet verlaat. Dr Howell se uitsprake in sy “Ope Brief” is in stryd met bestaande Sinodebesluite en in sy weerstand teen hierdie besluite volg hy nie die kerklike weg nie Dit is duidelik uit die “Ope Brief” dat dr Howell dit nie eens is met die standpunt dat vroue in die besondere dienste kan dien nie. Hy verset hom dan ook teen die sinodebesluit waarvolgens vroue toegelaat word om as diakens te dien en bring hierdie besluit onder verdenking deur dit ‘n kompromisbesluit waarvolgens die kerkreg myns insiens tegnies misbruik is, te noem Dit, terwyl dit duidelik genotuleer staan dat die sinode die besluit “in die lig van die Skrif” geneem het (Acta 2009:668). (‘n Besluit wat “in die lig van die Skrif”geneem is, kan seker nooit ‘n kompromisbesluit wees nie.) Om sy mening te lug in ‘n “Ope Brief”, is dr Howell se goeie reg. (Voorstanders van die vrou in die amp het in 2006 dieselfde gedoen) Hy (as kerkregtelike) sal egter seker besef dat om bloot beskuldigings in die lug te skreeu teen staande sinodebesluite, nie eintlik die kerklike weg is nie. Die deur staan ook vir hom oop om sy siening en beskuldigings deur ‘n beswaarskrif by die sinode te toets - en na dese - sal dit nie onbillik wees as die kerklike gemeenskap dit inderdaad ook van hom verwag nie. Dr Howell bied ‘n selektiewe uitsig op die posisie van die vrou in die kerk en die saak van die vrou in die besondere dienste 1859 - word op ‘n besondere manier in dr Howell se “Ope Brief” beklemtoon. Dit is dan die datum waarop die posisie van die vrou in die GKSA vasgestel is met geykte en gedeë Gereformeerde eksegese. Die waarheid is egter dat die posisie van vroue in die GKSA sedert 1859 tot vandag toe voortdurend aan die verander was. Ek noem maar net ‘n paar sake wat sedert 1859 radikaal verander het: · Vroue sit nie meer tydens die erediens in aparte blokke nie · Die Vroueblad en Sustersaksies funksioneer sonder “manlike toesig” · Die kleredragreëls (verbod op die dra van langbroeke ens) het verdwyn · Daar word nie meer gefrons oor (of gepreek teen) ‘n vrou “wat werk” en nie haar “plek in die huis ken” nie · Vroue word nie meer verplig om “’n hoofbedekking” te dra nie · Vroue het in die kerke stemreg verkry (en het inderdaad ook hierdie “regeerfunksie” uitgeoefen toe dr Howell na sy huidige gemeente beroep is) · Vroue is toenemend aktief betrokke by al die diensgroepe/kommissies van Gereformeerde gemeentes Om nou in ‘n “Ope Brief” die indruk te wek dat niks sedert 1859 verander het nie - en dat indien dit wel verander het, dit nie Gereformeerd is nie, is m.i. selektief en kortsigtig. Die GKSA was en is voortdurend aan die reformeer ten opsigte van die posisie van die vrou in die kerke. Die gesprek oor die vrou in die besondere dienste is maar net ‘n voetnoot by ‘n gesprek wat eeue al aan die gang is. Dr Howell maak hom in sy skrywe aan liefdelose verdagmakery skuldig wat grens aan oortreding van die negende gebod Dit is die polariserende “ons/hulle” retoriek wat dr Howell in sy “Ope Brief” gebruik, wat my die meeste hinder. Sekerlik is hy daarvan bewus dat die eenheid van die kerk ‘n kosbare saak is waarom Jesus bid (Joh 14:21) en sal hy (dalk by nabaat) insien dat om skeuring in ‘n kerk voor te stel nie regtig so ‘n eerbare weg is, as wat hy in sy brief suggereer nie. Wie is dan hierdie anonieme en ondermynende “hulle” wat (volgens dr Howell) ‘n veranderde (nie-Gereformeerde) denke en Skrifbeskouing het en wat vrysinnigheid en relativisme in die teologie najaag - en wat versoek moet word om eerder die kerk te verlaat? Dit is - baie duidelik uit die “Ope Brief” - gewoon almal wat oortuig is dat daar in die Skrif geen beletsel is teen die vrou in die besondere dienste nie. Dit sluit dus ‘n groot deel (m.i. die meerderheid) van die GKSA in - alle gemeentes wat reeds vroue as diakens bevestig het en almal wat hulle oor die jare ten gunste van hierdie saak uitgespreek het (waaronder van ons mees gerekende en bekwame Gereformeerde eksegete). Om nou aan hierdie persone ‘n soort samesweringkomplot toe te dig, waarvolgens subtiel te werk gegaan word, vooraf gekoukus word, strategie deurgevoer word, besluite deurgedruk word, en wat gesorg het dat woorde verander word om ‘n Trojaanse perd binne te laat, gaan te vêr. Ek wil dit openlik aan dr Howell stel, dat ek namens myself (en ook namens my medestanders wat jare lang biddend-eksegeties in die saak betrokke is) ernstig aanstoot neem aan sy bewerings. Dr Howell sê dat hy nie wil verketter nie - maar hy doen dit inderdaad! Ek dink nie hy kan hom in hierdie opsig (wat die 9de gebod betref) voor die Here verantwoord nie. Watter motief sou enigeen van ons hê - om deur middel van ‘n sameswering die GKSA of sy hermeneutiek of sy Skrifbeskouing te ondermyn? Is hierdie kerk nie ons moeder nie? Hierdie kerk (waarvan dr Howell ons wil “verskoon”) is ons lewe, ons roeping en ons tuiste! Jare lang dien ons voluit om hierdie kerk en sy lede in God se koninkryk diensbaar te stel. Die saak van die vrou in die amp het ook vir niemand van ons persoonlike voordeel gebring nie. Ek persoonlik IS ‘n man, IS ‘n bevestigde predikant, en HET NIE dogters of vroulike familie wat predikant of ouderling wil word nie. Ek het op geen manier voordeel of gewin (finansieel of andersins) verkry deur my met die saak te bemoei nie. In teendeel! - vir langer as 20 jaar al bring die saak net moeite en sweet en baie studie-ure en teenstand en hartseer en vyandigheid (konsekwent van mense wat hulle briewe nogal “jou broeder in Christus” teken) - al die pad! Is dit vir dr Howell totaal onmoontlik om in te sien dat ons ywer vir die saak van die vrou in die besondere dienste diep Reformatoriese motiewe het? Saam met andere is ek vas oortuig dat die Gereformeerde ampsbeskouing nog onder Roomse invloed staan. Veral wanneer daar beweer word dat behalwe die gawes en roeping deur die Heilig Gees, daar ook nog iets anders is - iets “uit die natuurlike mens self” (manlikheid) - wat benodig word voor iemand God in die besondere ampte kan dien. As “kind van die reformasie” verset ek my teen hierdie oorgeblewe “papisme” en werk ek met alle mag daarteen - sodat daar eendag ook in die GKSA oor ons ampsbeskouing “Sola Scriptura” en “Sola Spiritu Sancti” en “Sola Gratiae” uitgeroep kan word! In die proses gryp ons vas aan die duidelike Skrifgetuienis oor sake soos: die feit dat daar deur die eeue vroue was wat God amptelik gedien het, en dat daar inderdaad in Christus vir die vrou ‘n veel heerliker posisies aangebreek het, en dat vroue self ook nou (onafhanklik van die verbintenis aan ‘n man) die verbondsteken ontvang, en dat vroue deur Jesus self heel eerste gebruik is om die evangelie van sy opstanding te verkondig - en ons toon met oorwig van getuienis aan dat die Skrif wat op ‘n geldige wyse in konteks en volgens die erkende Gereformeerde hermeneutiese reëls verklaar is - nêrens enige beletsel plaas op die amptelike dienswerk van vroue nie. Hierdie getuienis plaas ons oop en bloot vir beoordeling by sinodes en in werkgroepe en in publikasies - terwyl ons ook voortdurend praat oor die getuienis wat die Heilige Gees self deur die werk en gawes van vroue lewer - en wat Hy ook self voortdurend in ons harte oor hierdie saak lewer. Persoonlik is ek (nog nie) ten gunste daarvan dat daar in die kerklike praktyk met die vrou in die amp verder gegaan word as wat ons onderling by die sinode ooreengekom het nie. Maar ek het begrip daarvoor dat mede-gelowiges - na jare van studeer en afwag - uiteindelik ‘n punt bereik waar hulle op Skrifgronde - in hulle gewete voor God en in die praktiese bedieningsituasie waarin hulle is - eenvoudig sê dat hulle God meer gehoorsaam wil/moet wees as mense. Ten slotte Dr Howell vra in sy “Ope Brief” hoe die GKSA gekom het waar hy tans is. Ek wonder of die vraag nie eerder moet wees nie: Hoe het dr Howell gekom waar hy tans is? Ja - hoe kom ‘n mens daar waar jy medegelowiges - wat op Skrifgronde anders as jy dink - links en regs uit die kerk “verskoon”? In die lig van dr Howell se beroep op eerlikheid (5X) wil ek deur hierdie skrywe aan die hand doen dat die antwoord iewers onder die volgende vyf faktore gesoek moet word: · Hermeneutiese naïewiteit · Eksegetiese traagheid · Historiese kortsigtigheid · Medemenslike liefdeloosheid en · Ideologiese verstardheid By al die “reguit taal” wat hierbo gebruik is, stel ek dit onomwonde dat ek van my kant af steeds graag saam met dr Howell kerk sal wil wees. Die Here het hom aangeneem, waarom sou ek hom nie aanneem nie? (Rom 14:3). Daar is wat my betref ‘n oorwig van wesenlike sake waaroor ons dit met mekaar hartlik eens is (en waarvoor ons in die GKSA nie genoeg oog of dankbaarheid het nie). Verder glo ek vas dat mense in hulle standpunte kan groei en verander (anders sou ons mos nie Christene gewees het nie). Daarom sal ek en andere aanhou om elke geleentheid aan te gryp om oor die goeie saak van die vrou in die besondere dienste te getuig - met die bede dat God uiteindelik sal oortuig. Wim Vergeer Februarie 2012
|