| Liewe broers en susters
Daar het onlangs ʼn “ope brief” aan die Gereformeerde kerke die omgang gedoen, en daar is ook daaroor berig in die openbare pers (Beeld, o.a.). Die brief is versprei deur dr Jac Howell, die predikant van die GK Heidelberg. Die brief beweer dat Gereformeerdes (=Doppers) wat van mening is dat vroue wel in die dienste van predikant, ouderling of diaken dien, ʼn verkeerde (sondige) eksegese en hermeneutiek volg en eintlik nie meer Gereformeerd is nie. Sulke Gereformeerdes, sê hy, moet “eerlik” wees daaroor dat hulle nie meer Gereformeerd is nie en die GKSA verlaat en by ʼn ander kerk aansluit. Hy beweer dat mense wat anders dink en verstaan as wat die vadere in 1859 (toe die GKSA gestig is) gereken het, die pad byster is.
Hierdie brief en die verkorte beriggewing daaroor in die dagpers het reeds tot hartseer, skok en woede aanleiding gegee. Ons wil nie nou volledig reageer op hierdie brief nie (en ons dink dit is onnodige vermorsing van tyd en energie om oor die hele brief in detail te antwoord). Ons wil egter enkele punte onder julle aandag bring:
- · Elkeen is geregtig op sy opinie, en so ook dr Howell.
- · Ons insiens verteenwoordig sy opinie ʼn minderheid, wat daarin sigbaar word dat die sinode 2012 ʼn “omkeerstrategie” goedgekeur het, wat eintlik inderdaad impliseer dat die “ou” pad wat ds Howell voorstaan juis daartoe gelei het dat daar nou bekering moet plaasvind en ʼn ommekeer gesoek moet word.
- · Sy skrywe is ʼn verbreking van die “gemeenakkoord”, dit is die verstandhouding wat Gereformeerde Kerke onderling het dat besluite van die sinode as vas en bindend op kerke en predikante beskou word, tensy daar op ʼn kerkregtelike wyse aangetoon word dat ʼn besluit van die sinode in stryd is met Skrif, Belydenis en Kerkorde. Die dominee het dus ʼn verpligting om hierdie kerklike weg te volg, veral gesien in die lig dat hy tevore persone aangekla het omdat hulle nie by die gemeenakkoord gebly het nie.
- · Die Sinode 2012 het besluit dat die saak van die vroue nie verder op ʼn konfronterende manier hanteer word nie, maar dat ons geduld met mekaar sal hê volgens die riglyn van Romeine 14. Dit is juis daarom dat die sinode deputate aangewys word om vas te stel of die verskille regtig so ernstig is as wat dr Howell dit teken. Hierdie skrywe is dus voortydig en sou beskou kon word as ʼn oortreding van die vyfde gebod omdat dit skeurmakery in die kerk van die Here kan aanwakker. Dit is inderdaad ʼn baie ernstige saak waarmee ons hier te make het!
- · Dit is vir ons jammer dat dr Howell so ʼn eng kerkistiese visie het (dat dit vir hom gaan oor die Gereformeerde Kerke) en nie die koninkryk van God nie.
- · Mens moet ook die konsekwensies van sy argument begryp: as hy beweer dat daar gebly moet word by die kerklike besluite van 1859, sal vroue steeds hoede kerk toe dra, geen langbroeke mag dra nie, mans met swart pakke en wit dasse moet eredienste bywoon, vroue nie kan stem, mans en vrouens apart sit in die kerk en ʼn menigte ander dinge! Ons sou nog moes glo in die destydse beskouing van rasseverhoudinge! Die broeder se argumente is ons insiens baie kortsigtig en inkonsekwent.
- · ʼn Vraag wat hiermee gepaard gaan, is hoekom bly dr Howell by 1859 (stigting van die GKSA? Hoekom nie 1618/19 (Sinode van Dordtrecht) nie? Of 1536 (Luther se 95 stellinge) nie? Hoekom nie 33 nC (die begin van die Nuwe-Testamentiese kerk) nie? Daarmee verhef hy ʼn kerklike vergadering en sy besluit tot kanoniek, dus, op dieselfde vlak van gesag as die Bybel. Dit impliseer dat vorige kerklike besluite nie toetsbaar aan die Skrif gestel mag word en selfs verander kan word as dit noodsaaklik blyk te wees nie. Hy skep op hierdie wyse ʼn kanon binne die kanon. Dit, terwyl die belydenisskrifte van die GKSA o.a. stel: “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin uitvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie—ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê. En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat, blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemaal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrite van mense, hoe heilig die mense ookal was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of die oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings (beklemtoning BK & LB), verordeninge of besluite met die waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self. Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” en “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie”. (NGB Art 7).
- · Die skrywe het op grond van die presbiteriale kerkregeringstelsel geen invloed of gesag oor wat in die Reformerende Kerk Benoni gebeur nie. Moet asseblief nie emosioneel reageer nie. Onthou dat ander kerkverbande ook hulle eie probleme het waarmee hulle worstel!
- · Ons betreur dit dat die broeder op grond van aannames oor ander Gereformeerdes se argumentasielyne en motiewe ʼn veroordelende houding aanneem teenoor mense wat anders as hy dink. Wat ons bedoel is dit: Sonder dat hy weet hoe ons kom tot die verstaan van die Bybel oor die vrou in die amp, beskuldig hy ons van vrysinnigheid, relativisme, feminisme, en nog ander. Dit is ons insiens ʼn oortreding van die 9e gebod, omdat dit ons ongehoord veroordeel, ons karakter skend en ons verdag maak.
Laat ons nou ook sorg dat onsself bo verdenking bly! Die Here Jesus het die mense wat Hom gekruisig het toegebid: “Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”. As daar medegelowiges is wat sekere dinge anders verstaan as onsself, laat ons hulle nie veroordeel nie, maar vir hulle bid as broeders en susters in die geloof.
Ons plaas op die webwerf (www.gkbenoni.co.za) ʼn reaksie van dr Wim Vergeer wat meer volledig reageer op die skrywe van dr. Howell.
Braam & Louis
|