26/10/2013 0 Comments Geloofsvrae en AntwoordeWet en genade of dan, die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament1. Daar word dikwels oor wet en genade/liefde vrae gevra wat verskeie teologiese terreine raak. Hermeneutiek (hoe die Bybel toegepas word op vandag), die verhouding OT en NT is ter sprake, fundamentalisme en selfs die verlossingsleer self (monergisme en sinergisme). Ek verduidelik kortliks:
2. Die Bybelse boodskap moet verstaan word in die lig van Gen 1 – 3, die Ou Testament, Nuwe Testament met Openb. 21 – 22 as die slot. o Gen 1 – 3 verduidelik dat die mens geskape is vir eenheid/gemeenskap/koinonia met God, medemens, die self en natuur. Die sondeval bring egter gebrokenheid. Die mens is vervreem van God. o Die OT vertel hoe God herstel belowe – Hy sluit ‘n verbond met Abram, en stuur ook die profete en gee die wet en seremonies as afskaduïng van herstelde verhoudings (Sien Hebr. 1: 1 – 2). o Die NT vertel hoe God die herstel van verhoudings laat deurbreek in en deur Jesus (sien Heb. 1: 3). o Die laaste deel van Openbaringe (en natuurlik ander plekke ook) vertel van die volkome herstel wat plaasvind met die oordeelsdag – ook die oordeel oor hulle wat nie op Jesus vertrou nie. 3. Binne bg. skema is dit duidelik dat die wet nié herstelde verhoudings kan bewerk nie, maar slegs ‘n vooruitwys is na God wat die verhoudings met Homself, die mens met homself, die mens met sy medemens en die mens met sy omgewing herstel. As jy hierdie benadering het wanneer jy die OT lees, word die OT sommer “maklik”, duideliker. o Dit is in hierdie konteks dat Gal. 3: 24, 25 praat van die wet as ‘n “tugmeester” (1933-vertaling). Dié woord is in Grieks “paidagogos”, en verwys na ‘n slaaf wat moes sorg dat die seuns van belangrike mense veilig by die skool (gimnasium) uitkom in die oggend en die aand weer by die huis, sonder om in gevegte betrokke te raak of by rooiliggebiede af te draai. o Dit word uitdruklik hier gestel dat die wet ons slaaf was om ons na Jesus toe te vat – die nuwe bedeling wat aanbreek nà die beloftes van die Ou Testament. Hierdie waarheid word op verskeie plekke in die Nuwe Testament herhaal, bv. Gal. 3: 23, Rm. 8: 3, Hb. 3: 1 – 3, Hb 7: 11vv, veral :28, ens. o Dit is om hierdie rede dat Gal 6: 2 sê: “2Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus”. Wat die wet nie kon doen nie, het Christus gedoen (Rm 8:3), nl om die verhoudinge te kom herstel. In hierdie sin is Christus “die einde van die wet” (Rm. 10:4). 4. Die Bybel maak dit duidelik dat God vryspraak aan mense gee, uit genade, op grond van die geloof (Ef. 2: 8). Die mens kan dus niks bydra tot sy saligheid nie. Dit is die Heilige Gees wat die mens wederbaar (Jh. 3: 3 & Eseg. 11: 18 en 36: 26 & Jr. 31: 33) sodat hy kan glo. Hierdie uitgangspunt word monergisme genoem, vs. sinergisme, waar die mens met God saamwerk om gered te word (Op. 3: 20 word in hierdie verband dikwels buite konteks aangehaal). o Tog was daar van die vroegste tye af mense wat wou saamwerk, wat voel dat hulle die finale sê het (sinergisme). Vir hierdie mense is die wet dikwels hulle bydrae, hulle aandeel in hulle regmaak van hulle verhouding met God. Dit is hartseer, maar uiteraard maak dit nie hulle redding ongedaan nie! o Kol. 2 handel grootliks hieroor. Daar was mense (Gnostici, word hulle genoem) wat gereken het dat hulle spesiale kennis het, ingelyfdes is, en volgens hulle was die hou van die wet allerbelangrik (kyk :8!). Besnydenis, nuwejaarsfees, nuwemaansfees en Sabbat moes volgens hulle weer terugkom! Maar duidelik word dit gesê: Dit (die Ou-Testamentiese wet) was maar net ‘n skadu van wat moes kom. o Ons kan dus met groot sekerheid se dat die hou van die wet nie ‘n voorgeskrewe voorwaarde vir die Nuwe-Testamentiese gelowiges is nie. Ons moet ons nie deur sulke argumente laat mislei nie (Kol. 2: 18) 5. Dit alles beteken egter nie dat die wet afgeskryf kan word nie! Jesus sê tog self: “17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry”. Die vraag is agter: Wat is hierdie “volle betekenis”? o Die wet kan tog nie strydig wees met God se wese nie – daar is nie spanning tussen die Wet en Jesus nie! Daarom kan ons sê dat die wet ‘n riglyn is vir ons dankbaarheidslewe is (Heidelbergse Kategismus, So 33, V/A 90 en 91). Die “lewe na God se wil” word in die wet beskryf. Dit sluit aan by Rm 6: 1 “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?” o Daarom is die wet ook die onderbou van die Christelike etiek. Die vyfde gebod bv leer dat jy alle gesag respekteer, die sesde dat jy lewe bewaar en bevorder, en so meer. o Die Christelike lewe word ook in Gal 5: 20 – 21 mooi beskryf – die vrug van die Gees. · Die teenkant van wettisisme is antinomialisme (wetteloosheid). Beide word deur ons verwerp en ons soek God in Jesus Christus op terwyl ons wag op Jesus wat belowe het dat Hy terugkom! 6. Om dan terug te kom tot die vraag oor die “wet van Moses”. Uit bg behoort dit duidelik te wees dat die groter wet (Torah) val binne die groter plan van God se verbondsbegeleiding van die mens totdat Jesus sou kom om die wet ‘n liefdeswet te maak. o Daarom is daar reëlings oor staatkundige, etiese en kultiese sake. Hierdie dinge is alles in en deur Jesus vervul (Mt 5). o Dat dit waar is word so duidelik in Hd. 10:14 (en sien ook :28) dat jy heelwat verstandsgimnastiek moet gebruik om dit weg te verklaar. o In Rm. 14 word dit ook duidelik dat die wette nie meer geld soos in die Ou Testament nie, aangesien gelowiges hulle vrywillig kan weerhou van die eet van vleis wat aan afgode geoffer is, maar dit is duidelik nie meer die reēl nie. 7. Ons kan sê dat die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament een is van beloftes à vervulling, amper soos ‘n blomknop wat oopgaan om die blom in sy volledige mooiheid te vertoon. Braam Kruger (VDM) Gereformeerde Kerk Benoni 0824595636 braam@gkbenoni.co.za
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
ArgieweKategoriee |
VisieOns visie is om God deur voortdurende metamorfose te verheerlik.
MissieOns missie is om die Benoni-gemeente’n plek te maak waar lidmate in liefde toegerus, gemotiveer, gelei en geleentheid gegee word om metamorfose te ondergaan sodat elkeen se roeping uitgeleef kan word.
|