| Pitkos |
| 18 Augustus 2011 Jakob was 'n verraaier, Petrus het 'n humeur gehad, Dawid het 'n "affair" gehad, Noag het dronk geword, Jona het gevlug van die Here af, Paulus was 'n moordenaar, Gideon was baie onseker, Miriam het geskinder, Martha het haar bekommer, Maria Magdalena was 'n prostituut, Tomas was 'n kleingelowge, Sara was ongeduldig, Elia was depressief, Moses het gehakkel, Sageus was kort, Abraham was oud en Lasarus was dood! Wat is JOU ekskuus? Kan God jou gebruik of nie? Onthou: Die Here roep nie die gekwalifiseerdes nie, maar hy rus die geroeptes toe en kwalifiseer hulle vir hullle taak! (Onbekend) 3 Augustus 2011 Lees: Psalm 16 Kernvers: Psalm 16: 3 Tema: Soek uitkoms by die regte plek!
Die lewe is verseker vol met allerlei smarte en kinkels. Dinge gebeur in ons persoonlike lewens, maar ook by ons werk, by die kerk, in die familie en in ons land, wat ons ontstel of seermaak. Ek (Braam) was gister by die begrafnis van ’n jongman wat jare gelede by my belydenis afgelê het – doodgeskiet in ’n rooftog. So sinneloos. In ons gemeente die afgelope maande twee keer ouers wat hulle kinders moet begrawe – so verkeerd-om – ’n kind moet sy ouers begrawe! Die huwelike wat aan skerwe lê – en die gesinslewe wat verwoes word daardeur, en deur die sedeloosheid van die moderne samelewing. Afwesige pa’s, gebroke verhoudinge. Besighede wat onderdeur gaan, en so sal ons kan aangaan! Nie een van ons ontkom uiteindelik die hartsere en skokke van die lewe na die sondeval nie. Ons leef in ’n gebroke wêreld.
Dit kan so maklik gebeur dat ons in hierdie tye ons troos en ontvlugting gaan soek op plekke waar ons nie moet nie: in drank, in bandeloosheid, in dwelms, in seks, in geld en voorspoed, in pret en plesier en ontspanning, in wreedheid en belangeloosheid en ’n binnekant wat hard en afgestomp raak. ’n “God” is iets of iemand waarop jy jou vertroue stel om jou te help, om jou te red, jou uit te red. Die digter van Psalm 16 smeek om die genade dat hy nie op die gode van sy tyd sal staatmaak vir uitkoms nie, maar op die Here alleen. Hy sê: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af (:5). En dan kan hy selfs sê – die kwaad van die lewe ten spyt – dat die Here vir hom ’n lieflike erfdeel afgemeet het (:6).
Waar soek jy na uitkoms in jou moeilike tye? Jesus het gesterf en vir ons die lewendmakende Gees verwerf, sodat God ons God kan wees. Dat ons in ’n verhouding met Hom geplaas kan word. Laat ons daarom op die Here alleen vertrou – dit is slegs in sy krag wat ons uitkoms vind, al gaan dit hóé moeilik.
Filippense 3: 1 – 3 Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.
In hierdie gedeelte skerp die Here die lidmate van Filippi op om op die uitkyk te wees teen dwaalleer. Maar nie sommer enige dwaalleer nie – dit gaan hier oor die Judaïsme. Hierdie mense het wel geglo dat Jesus die Seun van God is, wat gesterf het aan die kruis, en opgestaan het. Maar hulle het verder gereken dat die Ou-Testamentiese wette ook gehandhaaf moet word. Die teken van hierdie vashou aan die Ou Testament het na vore gekom in die besnydenis. AS jy nie besny was nie, kon jy nie ’n ware gelowige wees nie.
Die Here leer egter anders – dit gaan nie meer oor die uitwendige besnydenis nie, maar die inwendige besnydenis. Die besnydenis van die hart. Die Ou-Testamentiese besnydenis moes eintlik ook ’n teken wees van inwendige besnydenis (vergelyk Jer 31), maar die volk het só vasgeval in ’n staatmaak op die uiterlike dinge dat die innerlike verhouding met die Here nie meer van belang was nie.
Hier is twee lesse vir ons: a. Moenie op uitwendige dinge staatmaak om die stand van jou verhouding met God te bepaal nie. Kerkbywoning, lidmaatskap bloot op die register van ’n gemeente, bydraes, ouderling- of diakenskap, jou pa en ma wat “Doppers” was, niks van hierdie dinge sê op sigself dat jý in ’n verhouding met die Here is nie! Vertrou op Jesus en Jesus alleen om jou verhouding met God te toets. Dit beteken nie dat lidmaatskap van die kerk of Bybellees ens nié belangrik is nie, maar dit is die uitvloeisel van ’n herstelde verhouding met God. Dit is die resultaat van jou godsdiens, dit ís nie jou redding nie! b. Ons praat van die Judaïsme as ’n Christus+ godsdiens. Jesus plus iets wat jy byvoeg. Jesus plus behoort aan ’n sekere kerk, Jesus plus goeie dade, Jesus plus wat ook-al. Die reformatore het gesê” Sala Christo – deur Christus alleen. Laat dit ook vir ons so wees! Daar is iets hartseer in hierdie gedeelte: Die Jode wás die besnedenes van die Ou Testament, maar deur hulle verwerping van Jesus word hulle die onbesnedenes van die Nuwe Testament, en die Christene word die besnedenes van die Nuwe Testament. Daar is eksegete wat reken dat daar nog vervulling van profesieë uitstaande is wat verwys na ’n grootskaalse bekering van die Jode. Laat ons bid dat almal wat Jesus verwerp deur die Gees tot dieper insig gelei word, en hulle ook die besnydenis van die hart kan ontvang! |
