Pitkos 25 Augustus 2010
(deur Dr Sarel van der Walt)
Wees altyd bly in die Here!
Lees: Spreuke 13:1-10
Teks: Spreuke 13:13:9
- Spreuke 13:9 -
Die lewe van die regverdiges is vol vreugde;
die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.
Dis ’n gegewe dat die realiteite van die lewe ’n bepaalde invloed op elke mens se gemoedstoestand het. Ons gaan nie wegkom daarvan af nie. Die harde realiteite maak ons soms neerslagtig. Baie van ons is dalk op daardie punt van die lewe wat ons nie meer die waagmoed het om opgewek te wíl wees nie. En dan is dit nou amper met ’n tikkie verbasing dat mens hierdie stelling in Spreuke 13:9 lees: “Die lewe van die regverdiges is vol vreugde; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof”.
As jy hierdie versie nie in die regte konteks gaan verklaar en verstaan nie, dan gaan jy in die slaggat trap dat iets soos depressie sonde is. As jy depressief is, - en daar is verskillende soorte depressie en verskillende fases van depressie by elke soort - dan voel dit nie altyd of jou lewensliggie baie helder skyn nie. Is jy dan nou goddeloos? Dit voel dan vir jou of jou lewenslig uitgedoof is! Is jy net regverdig wanneer jou lewe vol vreugde is?
Petrus skryf in sy eerste boek: “In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Petr. 1:3-4).
Op grond van wat Christus gedoen het, is ons regverdig en kan ons vreugde vind. En ons vreugdes lê nie in aardse dinge nie. God het ons regverdig gemaak. En vir ons vir wie Hy regverdig gemaak het het Hy die belofte van ’n wonderlike en ewige eindbestemming gegee – iets om oor vreugdevol, opgewonde en bly te wees. Wees bly daaroor, verheug julle daaroor, al gaan julle nog by tye bedroef raak deur allerhande aardse dinge, tydelike dinge.
Omdat God ons regverdig gemaak het, beteken dit nie dat ons nou al volmaak is nie. Ons blydskap is soms maar nog kortstondig, gebrekkig. Ons geloof is dikwels maar nog klein en afhanklik van melkkos. Ons hoop staan baiekeer nog maar op wankelende bene.
Maar wees bly, ook wanneer jy by tye bedroef gemaak word, want God wil hê jy moet strewe en groei na volmaaktheid, al bereik ons dit eers as ons die onvolnaakte lewe afsterf, en Hy werk met jou en aan jou deur jou omstandighede en realiteite in jou lewe om jou geloof sterker te maak, om jou hoop op die ewige dinge vaster te laat staan op die fondament wat Hy in Christus gegee het, om oor tyd heen jou blydskap voller te maak in die oorwinning wat Christus reeds behaal het.
Hou moed gedurende hierdie aardse tyd en aardse lewe en midde-in aardse dinge en ’n wêreld wat met aardse maatstawwe meet.
Pitkos 18 Augustus 2010
(deur Dr Sarel van der Walt)
GLO IS SIEN !
Lees: Johannes 20: 26-31 & Hebreërs 11:1-3
Teks: Johannes 20:29 & Hebreërs 11:3
- Joh 20:29-
“Glo jy nou omdat jy my sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
- Heb 11:3 -
Omdat ons glo, weet ons …”
Ek lees onlangs hierdie treffende woorde op die internet: “Some things need to be believed in order for them to be seen”.
Die motto van die wêreld vandag is baiekeer die teenoorgestelde van bogenoemde, nl. “sien is glo!”. Met ander woorde ons persepsie van dinge word gevorm deur ons ervarings en waarnemings. Wie onthou daardie klassieke ou wasgoedpoeier-advertensies van weleer wat eindig met hierdie einste slagspreuk: “SIEN IS GLO”?
Deur die geloof is die gelowige kind van die Here egter bewus van ’n ander werklikheid, en dit is die Goddelike realiteit. “Omdat ons glo, weet ons …”. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld geskep het. Omdat ons glo, weet ons dat Hy ons so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun vir ons gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Omdat ons glo, weet ons dat God se openbaring in sy Woord die waarheid is, en dat sy Gees wat in ons harte woon en werk, in ons harte van daardie waarheid getuig. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreldgeskiedenis, insluitende my lewensgeskiedenis en lewenstoekoms, in sy hande het en dat Hy my voortlei na my plekkie in die Vaderhuis.
Jesus vra aan Tomas (pas na Jesus se opstanding): “Glo jy nou omdat jy my sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Sommige dinge moet inderdaad geglo word om dit te kan sien, te kan insien en te kan verstaan. Dan eers kry dit sin en betekenis.
Pitkos 11 Augustus 2010
(deur Dr Sarel van der Walt)
El-Bet-El
Lees: Genesis 35:1-7
Teks: Genesis 35:7
Ons ken Jakob uit die geskiedenis: Altyd gereed met ’n plan o.a. om die eersgeboortereg te koop én die eersgeborene se seën te bekom. Die hakskeengryper van geboorte wou God aangryp deur wat hý doen. Hy wou in beheer wees van sy lot. Tog is hy die uitverkorene van God. Maar Jakob leer: Nie uit eie krag kan hy God aangryp nie, maar deur die beskikking van God word hy deur God aangegryp, sodat hy uiteindelik kan bely: El-Bet-El.
Bet-El, huis van God, soos vroeër deur Jakob vernoem, word nou El-Bet-El, die God van die huis van God. Nie meer Bet-El as eindpunt nie, maar Bet-El as beginpunt om by El-Bet-El uit te kom.
Watter kragtige belydenis moet dit nie ook in ons lewens wees nie: Juis óns swakheid, ons swakheid toon dat dit nie oor onsself gaan nie, maar oor God wat in ons lewens meer moet word. Ons kan vandag saam met Paulus ervaar: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Vandag kan ons ook, in die lig van die vervulling van God se beloftes in Christus, by El-Bet-El uitkom. Die weg na die Vader is deur Christus se kruisdood gebaan. Deur Christus heen na El-Bet-El.
Ons word opgeroep as gemeente, as kerk, as verbondsvolk van God, om God te bely as die enige God, die God van die huis van God, die God wat ons vasgryp in sy groot genade en wat getrou bly aan sy liefde wat Hy deur Christus aan ons betoon het.
Waaroor gaan dit primêr in die kerk van die Here vandag? En waaroor gaan dit primêr in jou lewe vandag? Ons het niks om mee tevrede te wees as die doel van alles nie die God van die huis van God is nie!
Pitkos 4 Augustus 2010
(deur Dr Sarel van der Walt)
Hoe lyk jou toekomsverwagting?
Lees: 2 Petrus 3:1-15
Teks: 2 Petrus 3:8
Dit is nou maar so dat elke mens een of ander vorm van ‘n toekomsverwagtig het. ‘n Eenvoudige voorbeeld is dat jou verwagting van môre se temperatuur (soos wat die weervoorspellers dit voorhou) vandag reeds jou gedagtes lei om te beplan wat jy gaan aantrek. Die gelowiges aan wie Petrus skryf het skynbaar moedeloos gebly omdat God se beloftes oor die wederkoms nie vervul word nie. Maar in vers 8 verduidelik Petrus dat menslike berekeninge onvanpas is by die tydsberekening van God se optrede – ’n dag en ’n duisend jaar is vir God dieselfde. Menslike berekeninge van die wederkoms is daarom onmoontlik. Ons kan alleen maar gelowig leef in die verwagting dat God tog sal laat gebeur wat Hy beloof het. Hy sal dit laat gebeur op sy tyd, nie volgens ons grille en giere in ons aardse tydsomstandighede soos bereken volgens menslike tydskale nie. Soos wat Jesus Christus in die verlede op die bestemde tyd gekom het, sal sy wederkoms weer op die regte tyd (God se tyd) wees, tot redding van almal wat in Hom glo en Hom afwag met geloofsvolharding. Daarom moet ons, in die jare wat God ons in hierdie lewe laat leef (die jare wat God ons gee) ons lewe inklee deur ons toekomsverwagting van Jesus Christus wat weer sal kom.
Die geboorte van Isak was die vervulling van God se verbondsbeloftes en wil mens amper saam met Abraham die emosie ervaar wat in Isak se naam opgesluit lê, naamlik om te lag, maar hierdie keer van vreugde en dankbaarheid. Die geslagslyn waarin die verbonds¬beloftes gestalte sou kry, het begin loop. Maar nou moet Isak geoffer word. Ons weet nie wat in Abraham óf Isak se gemoed omgegaan het nie, maar twee keer vertel die teks vir ons die konteks waarbinne die gebeure afspeel: “Die Here voorsien”, want God bly getrou aan sy beloftes en Isak word nie net die gawe van die verbond nie, maar is hierdie gebeure ook God se waarborg van sy verbondstrou.
God se voorsienigheid is vir ons die raamwerk waarbinne ons lewens vanaf begin tot einde afloop. God se voorsienigheid ís die lewe. Die geloofspad van God se kinders was nog nooit nét maanskyn en rose nie. Die Nuwe Testament vertel van gevangenskap, honger, skipbreuk ly, vervolging, marteling en dood, ter wille van die evangelie. Dit vertel hoeveel daar deur mense opgeoffer is vir God – vir God wat eenmaal in die geskiedenis uit liefde vir sy kinders sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom aan die kruis laat offer het sodat ons mag weet dat God voorsien, wel op maniere wat soms vir ons menslike verstand nie altyd sin maak nie, en op tye wat dalk nie vir ons geleë is nie. Maar God se gedagtes en God se tyd omvat ons hele lewe. Die Isakgebeure op Moria is ’n voorspel tot die Christusgebeure wat later sou kom op Golgota, volgens sommige verklaarders skaars ’n klipgooi van Moriaberg, toe God se voorsienigheid wel behels het dat bloed moes vloei, ter wille van ons en ter wille van sy troue sorg oor ons lewens.
- Jeremia 29:11-
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie
teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”
Ons kan sulke lekker planne vir onsself maak elke dag. Baiekeer het ons ook drome vir die toekoms – vergesigte van wat ons wil bereik en wat ons wil wees oor 5 jaar of oor 10 jaar. Baiekeer trap ons egter in die slaggat dat ons links en regs begin beplan, vir ons vaste doelwitte stel wat ons wil bereik, en dan, amper as ’n soort nagedagte, die Here wil bytrek sodat Hy ons plannetjies kan seën en sy stempel van goedkeuring daarop kan plaas.
Dalk was dit ook so met die ballinge. Hulle het dalk ook gedroom van die terugkeer na Jerusalem, en dat dit baie gou sal gebeur, en dan het hulle gou-gou hulle eie (vals) profete geglo wat ook gemeen het dat hulle gou-gou gaan terugkeer.
Maar die Here werk anders. Hy weet wat Hy vir ons beplan. Net soos wat die ballinge God se “goeie vye” was wat eers mooi moet ryp word om weer met insig God te kan dien (vgl. Jer 24:4-5). Vir hulle beswil sal Hy sy oog oor hulle hou. Vir ons beswil hou God sy oog oor ons en weet Hy wat Hy vir ons beplan. Voorspoed en nie teëspoed nie. Hy gee vir ons ’n toekomsverwagting wat Hy vir ons in gedagte het. En daardie toekomsverwagting is geklee in die oorwinning van Jesus Christus, sodat al God se kinders ook vanuit die aardse ballingskap die ewig rus kan ingaan wanneer God dit beskik.
Ons gemeente is tans besig met ’n strategiese beplanningsproses vir die toekoms. Kom ons bid saam dat ons in hierdie hele proses sal soek na God se wil vir ons gemeente. Hy weet wat Hy vir ons beplan! Ons wil in gehoorsaamheid buig voor sy wil vir ons en ons wil ook ryp word om Hom reg te kan dien, elke dag van ons lewens.
“Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van u af.
’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”
Ons kan soms nogaal aangaan oor wat in die lewe met ons gebeur. Ons kan beangs voel oor sommige dinge – oor siekte, aftreegeld. Ons kan onsself in ’n gat vol bekommernisse in dink oor die lewe en wat alles met ons kan gebeur, en hoe ons dit kan vermy. Maar so kan ons aangaan as ons nie agter alles raaksien dat God alles in ons lewens afmeet het; dat God alles bepaal wat in ons lewens gebeur en wat oor ons lewenspad kom.
Want lees ’n mens Psalm 16, hierdie mooi gedig van Dawid, dan leer ons hieruit dat God elkeen van ons se lewens afmeet, en ook elke oomblik in ons lewens. Dawid het na alle waarskynlikheid in doodsgevaar verkeer toe hy hierdie psalm geskryf het, mens lei dit af uit sy verwysing na die dood en die graf. Maar hierdie Psalm beskryf vir ons die mooi van die lewe, omdat God alles van ons lewe vir ons afmeet, ten spyte van die soms moeilike tye wat daar mag wees en sekerlik gaan wees.
In teenstelling met Dawid, verkeer ons seker allermins in doodsgevaar. Maar die beginsel wat hieruit geld is dat ons, soos Dawid, in ALLE omstandighede mag weet dat die Here weet wat Hy met ons lewens doen. Hy meet elke oomblik van ons lewens vir ons sorgvuldig af. ’n Deel van ons lewens is hartseer, pyn, trane. Maar net so groot deel van ons lewe is vreugde, lag en blydskap. God het die lag saam met die traan vir ons afgemeet. Maak dus nie saak watter deel ons s’n is nie, dit is mooi. Elke deel van die lewe is mooi, omdat, en veral omdat, dit in die eerste plek ’n lewe saam met God is, en lewe wat God aan ons gegee het.
Alles in die lewe, of dit by tye moeilik gaan is of was, en ook waar daar baie vreugdes was en nog gaan wees, dit alles is mooi omdat Gód dit vir ons afgemeet het. Maar die deel wat ons ontvang is nie net die lewe as gawe van God nie. Die deel wat ons ontvang is God self, as ons erfdeel. God het ons deel geword toe Jesus aan die kruishout die slegte deel van ons lewens met sy bloedstorting skoongewas het. Deur Christus se betaling aan die kruishout het ons God se eiendom geword – God se deel, en het God ons erfdeel geword saam met die lewe wat ons ontvang het.
En daarom: Omdat die Here ons deel is, is die deel wat ons ontvang het, mooi! Want ons het die Here ontvang. Ons het die lewe ontvang. Ons fokus dus ons hart en ons verstand, ons krag en ons gawes, dwarsdeur ons lewe, op God wat dit alles vir ons afgemeet het, wat nie net hierdie lewe en al die mooi dinge van hierdie lewe nie, maar ook die ewige lewe en al die mooi dinge van die ewige lewe vir ons afgemeet het.
Maar: Omdat die Here ons deel is, moet ons berus in die deel wat Hy oor ons lewens bring. As ons saam met Dawid bely dat die Here ons deel is, dan moet ons die suur saam moet die soet ontvang, want dit is alles ons deel. Dit gaan dikwels opofferings vra. Dit gaan dikwels berusting by God se wil vra. Dit gaan vra dat ons God se regeermag oor ons lewens sal erken en bely en uitleef, al werk die magte van die bose oortyd om ons lewens te regeer. Dit gaan vra dat ons God sal opsoek in ons lewens, midde in ’n wêreld wat ons elke dag wil verwyder van God.
Mag ons ook vandag ervaar as ’n mooi deel wat God vir ons afgemeet het.
Lees: Spreuke 13:1-10 & 1 Petrus 1:3-9
Teks: Spreuke 13:9 & 1 Petrus 1:5-7a
Hoe ons nou ookal na die lewe kyk, en na alles wat met ons in die lewe gebeur, dis ’n feit dat die realiteite van die lewe ’n bepaalde invloed op elke mens se gemoedstoestand het. Die harde realiteite maak ons soms neerslagtig, hartseer en bedruk. Ons is soms oortuig dat die wet van Murphy die regulerende beginsel van my lewe is. Want as iets kán verkeerd gaan, dan sál dit, en heel dikwels op die mees astronomies-katastrofiese manier denkbaar. Hoekom dan nog enigsins probeer om postief te wees. Ek karring maar eerder aan op my manier, want op my manier het ek minstens geleer om weerstand te kan bied teen al die slegte wat die lewe na my kant toe gooi.
En nou is dit nou amper met ’n tikkie verbasing dat mens hierdie stelling in Spreuke 13:9 lees: “Die lewe van die regverdige is vol vreugde; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof”.
Maar nou moet mens baie mooi dink, en versigtig wees. As jy hierdie versie nie in die regte konteks gaan verklaar en verduidelik nie, dan gaan in die slaggat trap dat iets soos depressie sonde is. As jy depressief is, - en daar is verskillende soorte depressie en verskillende fases van depressie by elke soort - as jy depressief is, dan voel dit nie altyd of jou lewensliggie baie helder skyn nie. Is jy dan goddeloos? Dit voel dan vir jou of jou lewenslig uitgedoof is! Is jy net regverdig wanneer jou lewe vol vreugde is?
Oppas vir die gevaar van kontekslose Skrifverklaring. Ons meet baiekeer ons lewens vandag aan ’n tipiese oorsaak-en-gevolg-skema waarmee die wêreld behep is. As jy iets verkeerd doen, gaan jy gestraf word. As jy dit doen, gaan dat gebeur. As jy maar net reg leef en reg doen, gaan jy verlos word?!
Onthou: Al die Spreuke (van Salomo) staan onder die oorkoepelende uitspraak van Spreuke 1:7. Die boek Spreuke is geskryf om mense te onderrig in die regte kennis, regte lewenswandel en lewenskuns. Maar die grondslag van alles wat reg is, word saamgevat in vers 1:7: “Kennis begin met die dien van die Here …”. En as jy die Here dioen, en jou verdiep in sy Woord, dan begin jy ontdek dat dit in die boek Spreuke en in die boek van die Here (die Bybel) nie oor menslike oorsaak-en-gevolg skemas gaan nie, maar oor die groter konteks (die groter prentjie) van God se oorsaak-en-gevolg skema.
Hy is die oorsaak van alle dinge, ook die oorsaak van ons verlossing. Op die mees onverstaanbare en onverklaarbare manier breek God ons idee van oorsaak en gevolg af. Aan die kruishout offer Hy sy eie Seun wat sondeloos, onbesmet, onskuldig was sodat ons wat vol sonde, besmet en skuldig was, gered kon word. Hy vergeld ons nie na ons dade nie, maar beloon ons op grond van Christus se kruisdaad. Op grond van wat Christus gedoen het, is ons regverdig en kan ons vreugde vind. En ons vreugdes lê nie in aardse dinge nie. God het ons regverdig gemaak. En vir ons vir wie Hy regverdig gemaak het het Hy die belofte van ’n wonderlike en ewige eindbestemming gegee – iets om oor vreugdevol, opgewonde en bly te wees. Wees bly daaroor, verheug julle daaroor, al gaan julle nog by tye bedroef raak deur allerhande aardse dinge, tydelike dinge (1 Petr 1:3-9).
Wees bly, ook wanneer jy by tye bedroef gemaak word, want God wil hê jy moet volmaak word, en Hy werk met jou en aan jou deur jou omstandighede en realiteite in jou lewe om jou geloof sterker te maak.
Esegiël moet in hierdie gedeelte deur middel van ’n fabel God se Woord aan die volk Israel verkondig. Hierdie fabel verduidelik die geskiedenis van Juda in die kort tydjie voordat hulle in ballingskap weggevoer is.
So bietjie agtergrond: Nadat die noordelike 10 stamme in ballingskap weggevoer is, het slegs die suidelike tweestammeryk van Juda agtergebly. Sedekia is deur Nebukadnesar van Babel op die troon in Jerusalem geplaas en moes gedurigdeur verslag doen aan Nebukadnesar. Sedekia het egter agter die rug van Nebukadnesar om, hulp by Egipte gaan soek om Juda te verlos van die mag van Babel. Nebukadnesar het hiervan te hore gekom en Jerusalem kom verwoes. De laaste inwoner van Jerusalem is deur Nebukadnesar en sy leërmag weggevoer in ballingskap, insluitend Sedekia. Sy oë is uitgesteek en in Babel het hy gesterf. Die heilige stad Jerusalem het ’n puinhoop geword. Die volk Israel het in Babel op die ashoop van ballingskap geworstel met die sin van alle dinge. Waarom sou God dít met sy volk laat gebeur? Vir Israel moes al hierdie gebeure moeilik sin gemaak het.
By wyse van hierdie fabel wat Esegiël aan die volk moes vertel, word aan die volk verduidelik dat, al was dit Nebukadesar wat alles tot uitvoering gebring het, was dit die God van Israel wat hom as instrument gebruik het om sy wil tot uitvoering te bring. Nebukadnesar en sy ryk is magtig en sterk gemaak deur die toedoen van God, sodat God se straf en oordeel oor die volk voltrek kon word. God het dit gedoen sodat al die ander bome in die veld, al die ander nasies, kan weet dat Hy die Here God is, dat Hy magtig is om te doen wat Hy besluit het; dat almal vir Hom en Hom alleen ontsag sal hê.
Die volk leer deur hierdie fabel: Die mens wik, maar dit is God wat beskik – oor alles en oor almal. Dit is die sin van die lewe! Dis nie eers wanneer ons alles verstaan, wanneer die lewe sin kry nie. Dit is wanneer ons alles wat ons nie verstaan nie, in die regte lig sien, dat die lewe sin kry, al verstaan ons steeds nie alles nie. Op die harde manier het die volk dit moes leer. Al verstaan hulle nog nie alles nie, het die volk nou geweet: Dit is vanweë God se beskikkingsmag dat dit alles met hulle gebeur.
Maar God se beskikkingsmag behels nie net oordeel nie. Dit sou die volk ook weer leer. God se beskikkingsmag behels nie net afkap en laat droog word nie. God se beskikkingsmag behels ook genade. God wil ons ook laat besef dat Hy sy kerk wil laat groei en laat vermeerder, al gebruik Hy mense as instrumente om dit te doen; al gebruik Hy mense wat soms wonder oor die sin van alles; wat wonder oor waar die groeikrag vandaan gaan kom vir die gemeentes op die sendingveld.
En om hierdie wonderlike sin aan die lewe te gee, het God sy Seun gestuur om dit alles te kom vasmaak vir ons. In Christus het ’n klein boompie ’n groot en magtige reus geword. In die kruis van Christus verkry die lewe van die gelowige werklike sin en kan almal wat glo, rus en vrede vind. Met hierdie geloof in ons harte, het ons lewens diep wortel geskiet en vloei die sappe van die lewe deur ons takke en blare. Ons kan vrugte dra wat God se goedheid en genade in ons lewens weerspieël. En as sterk stormwinde deur ons takke waai en dit vir ons wil voel of ons uit die grond geruk wil word, dan kan ons die gerustheid in ons harte hê dat God ons in stand sal hou; dat God ons wortels in die grond sal hou.
Die lewe met sy vreugdes en hartseer is amper vergelykbaar met ‘n staptog in ‘n woestyn. Jy bereik die piek van ’n duin, en dan is daar maar nog een, en as jy sy bo-punt bereik, dan weer nog een. En as jy boonop verdwaal is in hierdie lewenswoestyn van jou, dan is hierdie gevoel van nimmereindiging verpletterend op ’n mens se lewe. Niks maak meer sin nie. Jy sukkel om die sin van die dinge in jou lewe te verstaan. Jy sukkel om die sin van die lewe te verstaan. Jy verloor rigting en koers, jy voel verlate. Miskien is dit hoe Israel gevoel het tydens hulle omswerwinge deur die woestyn – heelwaarskynlik “Godverlate” – en lees ’n mens in Eksodus 16 dat hulle wou omdraai, op hulle voetspore terugloop Egipte toe. Die ironie in Israel se redenasie is dat hulle oordeel dat hulle meer gehad het terwyl hulle in Egipte was, as wat hulle nou in die Here het. Hulle het oorgenoeg gehad in Egipte, en nou in die woestyn het hulle niks, niks anders nie as die belofte van ’n beloofde land wat oorloop van melk en heuning – redeneer die Israliete. Dan maar eerder terug na Egipte, in elk geval weg uit hierdie troostelose woestynlandskap! Ons ken almal hierdie mumurerings, hierdie versugtinge om weg te kom uit my omstandighede, om die pad te vat, ’n verandering te maak, om ’n ander koers in te slaan omdat my huidige koers en huidige werk en huidige lewensomstandighede nie na my smaak is nie, omdat my huidige lyding en my huidige kruis te swaar is, omdat my lewe soos ’n verlate woestyn voel met die een duinpiek na die ander. As hierdie doring tog maar net uit my vlees gehaal kan word, of as hierdie stuk beproewing net van my afgelig kon word, dan sal ek tevrede wees, versadig wees, vergenoeg wees. In werklikheid sê ons: Wat die Here vir my op die oomblik gee, is nie genoeg nie.
Ek dink ons is so besig om te kla oor wat ons nie het nie, dat ons nie tyd het om die dinge wat God wel vir ons gee, te geniet nie. Ons kan nie uit ons lewenswoestyn wegvlug nie. Ons is wel nog nie by die oase van die beloofde land, die nuwe hemel en die nuwe aarde nie, maar om in die woestyn te wees is deel van ons navolging van God. Vir 40 jaar moet ons trek daardeur, of as ons sterk is 70 of 80 jaar, en dié is vol swaarkry en leed (Ps. 90:10). Maar om in die lewenswoestyn te wees, is sinoniem met Christenwees.
Maar dan lees ons in Johannes 1 die mooi beskrywing van God se Seun wat in die vlees gekom het: “Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Joh. 1:14). Die Woord het as ‘t ware in die lewenswoestyn van die mensdom ingekom. Op geen ander tyd, en op geen ander wyse, het God Hom só genadig geopenbaar aan die mens nie, sodat ook ons saam met Israel mag weet: Die woestyn is die plek waar God nie ver van ons af is nie en waar Hy wonders doen, al is dit ons eie persoonlike lewenswoestyn – God is ook daar, naby aan jou, naby aan my.
En dan sal ons rondom ons kan kyk en beef dat die woestyn waarin ons dink ons verkeer, alreeds die groenigheid van die ewige oase begin vertoon. Want waar God is, en Hy ís by ons, daar is lewe en daar is genade. Nooit is ons alleen nie, daarvoor het Christus aan die kruis gesorg.
In ons lewenswoestyn is God aan die werk met ons. In ons lewenswoestyn is God steeds besig om wonders te doen. Ook in ons lewenswoestyn vlieg die kwartels laag en lê ons sandduine vol manna – God se genade is volop in ons lewens.
Lees: Eksodus Johannes 1:19-34
Teks: Johannes 1:29
Wie en wat is die kerk? Watter rol moet die kerk in Suid-Afrika speel? Watter rol moet ons as Gereformeerde Kerk Benoni speel? Wat is ons roeping as lidmate en waarin lê ons hoogste prioriteite?
Hierdie vrae het te make met ons identiteit. Die bekende Duitse teoloog, Bonhoeffer, het ook baie hieroor nagedink: Is ek dít wat ander van my dink? Of is ek wat ekself van my weet? Hy kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat ons identiteit ten diepste daarin geleë is: wie ons is … voor God!
Johannes die Doper is besig om te preek dat die dreigende toorn van God naby gekom het. Matt. 3:1-12 vertel vir ons hoedat Johannes gepreek het dat die byl al klaar teen die wortel van die boom lê; en dat Een aan die kom is met sy skop in sy hand om sy dorsvloer deur en deur skoon te maak. Die koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onuitblusbare vuur verbrand.
Só opvallend was sy prediking, dat die Jode ’n amptelike afvaardiging na hom toe gestuur het om vas te stel wie hy nou eintlik is; om te bepaal wat sy identiteit is. Hulle omsingel hom as ‘t ware met vrae. Wie is jy? Is jy Elia? Is jy die profeet? Drie keer antwoord Johannes: Ek is nie die Christus nie. Ek is nie Elia nie. Ek is nie die profeet nie.
Johannes die Doper tree as ‘t ware drie tree terug. Hy tree as ‘t ware uit die ligkring van ondersoek uit. Dit gaan nie oor Johannes nie. Dit gaan om soveel meer! “Dáár is die Lam van God.” Alles is van minder belang. Van meer waarde, verreweg die belangrikste, is Hy wat voor my alreeds daar was, wil Johannes leer. Johannes stel Christus in die lig. Dáár is die Lam van God! En uiteindelik lê ons diepste identiteit in Hom opgesluit. Ons identiteit lê daarin om Hom aan te dui; om Hom uit te wys, om Hom te verkondig, om in Hom te roem.
Ons is Christene, want ons identifiseer en assosieer onsself nie meer met die ou mens nie, maar met Hom wat ons aan die hart en die hand kom gryp het uit die modderpoel van ons sonde. Hy is die inhoud van ons lewe, van ons kerkwees, van die prediking. Paulus stel Christus as die inhoud van sy bediening in 2 Kor. 4:5 as hy sê: “Ons verkondig nie onsself nie, Maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus.”
Dáár is die Lam van God. Ons moet minder word en Hy meer. Christus moet bedien word aan elke lidmaat, oud of jonk.
Paulus se liriese gedig oor liefde het ‘n klinklare boodskap vir die gemeente in Korinte gehad. Dit was ‘n baie begaafde gemeente (1:6). Talle Geestesgawes is aktief deur lidmate beoefen. Die verskillende bedieninge wat gemeentelede beoefen het, het die onderlinge opbou van die medegelowiges en die uitlewing van hulle roeping in die wêreld ten doel (Efesiërs 4:11,12,16). Daarom is die liefde ‘n wesenlike en onvervreembare deel van elke gawe wat ‘n gelowige beoefen. Hierin het die Korintiërs in menige opsig gefaal.
Die liefde waarvan Paulus praat, is nie maar ‘n blote emosie nie. Dit is ‘n daadwerklike liefde. Verskeie Engelse vertalings vertaal die woord ‘agapē met “charity” (welwillendheid, liefdadigheid). Dit is ‘n besondere vrug van die Gees (Galasiërs 5:22), waarmee die Heilige Gees God se kind omvorm om gelykvormig te word aan die beeld van God (Romeine 8:30; 1 Johannes 4:7-21).
Die tyd vir die beoefening van genadegawes gaan egter verby en is tydelik. Met die wederkoms van Christus sal dit nie meer nodig wees nie (13:8). Dan bereik elke kind van God volmaaktheid. Die liefde vergaan egter nooit nie. Om genadegawes sonder liefde te beoefen is dus sinloos en kinderagtig. Dit is tyd dat die Korintiërs groot word (3:1-3; 13:11). In die twee briewe van Paulus aan die gemeente wys hy egter op talle voorbeelde waar liefde in die beoefening van die gawes ontbreek. Ook hulle selfverheffing, hooghartigheid en oorskatting van eie gawes is misplaas.
Insig en begrip is in hierdie bedeling nog beperk en vol gebreke. Paulus sê “ons kyk nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld”. Spieëls, soos ons dit ken, is eers in die dertiende eeu uitgevind. In Paulus se dae was ‘n spieël ‘n uitgeklopte, gepoleerde koperplaat wat in die beste omstandighede ‘n bra gefragmenteerde beeld weergegee het. So is selfs die beste kennis en verkondiging waaroor die mens beskik vér van volmaak. Liefdevolle beskeidenheid is dus gepas.
Vir ons, Gereformeerdes en talle Christelike kerke, hou dit nes vir die Korintiërs ’n duur les in. Ons verskil onderling oor baie sake. As die liefde egter in die uitleef van ons gawes en die beoordeling van ander gelowiges ontbreek, is dit onaanvaarbaar. Dan word ons geloof koud (Matteus 23:23). Ons ewige saligheid waarop ons ons hoop vestig, is die einddoel van ons geloof (1Petrus 1:8). Ook hierdie hoop word uiteindelik iets van die verlede. Wat egter tot in ewigheid gaan bly, is die onvervangbare liefde. Liefde het ewigheidswaarde en moet alles wat ons doen kenmerk (Openbaring 14:13). Van die baie belangrike geloof en kosbare hoop wat ons koester, is liefde die belangrikste.
Liefde Is nie onwelvoeglik nie: Die woord wat Paulus hier in Grieks gebruik, en wat met onwelvoeglik vertaal word, het ‘n wye betekenis. Dit sluit alles in wat teen die morele en maatrskaplike standaarde indruis, dit wat ‘n persoon wat so optree, eintlik moet laat skaam kry. Dit kan ook vertaal word met onbetaamlik, onbehoorlik. Onbetaamlike gedrag is volop. Paulus het die Korintiërs telkens aangespreek vir onwelvoeglike gedrag soos onenigheid (1:13), verregaande onsedelikheid (5:1), hofsake tussen gelowiges (6:6) ens. Die Bybel gebruik dieselfde woord of ‘n sinoniem vir onwelvoeglike optrede op verskeie plekke: Romeine 1:27; Efesiërs 5:4; Judas 13. Dit spel die draagwydte van “onwelvoeglik” duidelik uit.. Liefde soek nie sy eie belang nie: Die teenoorgestelde word juis as Christelike lewenswyse voorgehou. Vroeër in die brief het Paulus geskryf: ‘n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander (10:24). Dit is presies die teenoorgestelde van wat baie vakkundiges in die geesteswetenskappe leer. Hulle sê jy moet éérs jouself liefhë voordat jy ander kan liefhê. Hulle gebruik die teks: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matteus 22:39) dikwels verkeerdelik as bewysplaas..In Korinte het die gegoede lidmate dikwels eie belang op die voorgrond gestel (1 Korintiërs 6 en 10). Ook hierin bly die voorbeeld van Jesus Christus vir ons van deurslaggewende betekenis. Hy het ons liefgehad toe ons goddelose sondaars, sy vyande was (Romeine 5:6,8,10). Liefde is nie liggeraak nie: Om ‘n fyn nerf te hê, is ook ‘n tipiese menslike eienskap. ‘n Christen se houding is egter anders: Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie, so gaan ‘n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie (Spreuke 26:2). En as jy dit verdien? Dan is ernstige selfondersoek en bekering nodig! Liggeraaktheid is die oorsaak van baie ellende. Die lewenspad is besaai met mislukte verhoudings as gevolg van liggeraaktheid. Weereens gee Spreuke goeie raad: om ‘n rusie te begin, is om ‘n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref (17:14). Liefde hou nie boek van die kwaad nie: Die 1957-vertaling vertaal dit met: Die liefde reken die kwaad nie toe nie. Dit is tipies van die mens om die kwaad wat jou aangedoen is, te onthou. Dit kan jou toekomstige gedrag teenoor die persoon ten kwade beïnvoed, of jy kan dit vorentoe gebruik as jy ook ‘n hou wil inkry. Ook hier het Spreuke goeie raad: Wie ‘n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge; wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende (17:9). Liefde verbly hom nie oor onreg nie: ook dit is tipies mens om hom te verheug as iemand wat jy nie goedgesind is nie homself deur sy dwaasheid ophang. In Suid-Afrika is daar vandag meer as ooit geleentheid om so op te tree. Eerder moet dit ons tot droefheid stem: My trane vloei sonder ophou, omdat die mense u wet nie onderhou nie. (Psalm 119:136). By hierdie agste negatiewe kenmerk wat liefde nie is nie, stel Paulus die regte gesindheid van ‘n gelowige: Liefde verheug hom oor die waarheid. Deur die wese en werk van die liefde so duidelik te omskryf, roep God met hierdie jubelende gedig, 1 Korintiërs 13, die Korintiese gemeente – en ons! - op tot ernstige selfondersoek en bekering. Daar is soveel aspekte waarin die uitlewing van ons Christenskap nie aan die verhewe goddelike standaarde wat in die Bybel, dié waarheid, geopenbaar is, beantwoord nie. In Johannes 8:32 word die woorde van Christus die waarheid genoem. Die liefde verheug hom in dit wat in ooreenkomstig is met wat in Christus geopenbaar is. Dit is ‘n waarheid wat vrymaak (Johannes 8:32).
In die kort samevatting in vers 7 word gesê dat liefde die lewe van ‘n gelowige geweldig verryk. Dit stel hom in staat om te swyg oor die onwelvoeglike, om met vaste vertroue volgens Skriftuurlike beginsels op te tree, om seker te wees van die dinge wat hy hoop en om die kwaad wat hom aangedoen word grootmoedig te verduur. Liefde bly die belangrikste kenmerk van elke gawe wat God aan sy kind skenk, die ruggraat van elke bediening. Dan word jou bediening ‘n kragtige werking van die Gees (1 Korintiërs 12:6).
KANTAANTEKENINGE BY DIE EIENSKAPPE VAN CHRISTELIKE LIEFDE (1)
Lees 1 Korintiërs 13:1-7
Tema: 1 Korintiërs 13:4
Liefde: Lofwaardige dienslewering en prestasies teenoor jou medemens is waardeloos en nikswerd as dit nie deur en deur deur liefde gedra word nie (13:1-3).In verse 4-7 word ‘n handige en baie praktiese lys van kenmerke gegee waaraan ons ons liefde móét toets (Klaagliedere 3:40). Dié liefde waarvan die Bybel praat is ‘n heel besondere liefde waarin ons gelykvormig aan die beeld van Jesus Christus moet word. ((Romeine 8:29; 2 Korintiërs 13:11). Die liefde word in die Bybel uitgedruk met die vir ons reeds bekende Griekse woord ‘agapē. Die motief agter enige daad is van deurslaggewende belang. ‘Agapē. is ‘n liefde wat uit hoë waardering of hoogagting vir jou medemens spruit. Slegs die Heilige Gees kan hierdie liefde wat ewigheidswaarde het, skenk (Galasiërs 5:22; Openbaring 14:13).
Geduld: Die eerste eienskap waaraan Paulus Christelike liefde meet, is: geduld. Die 1957-vertaling verlaat dit meer letterlik met lankmoedig. Die eienskap beskryf altyd geduld teenoor mense en nie geduld met omstandighede nie. Om lankmoedig te wees met ‘n ander word dikwels in ons samelewing as ‘n swakheid beskou, maar eintlik is dit ‘n teken van geestelike krag wat slegs deur die Heilige Gees bereik kan word. Daar is letterlik honderde tekse in die Bybel wat hierdie geduld as vereiste stel. Seker een van die mooiste staan in Spreuke 26:2: Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie, so gaan ‘n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie. Geduld moet ook nie verwar word met dissiplineloosheid nie. Ook hier wys die Bybel op die liefdevolle balans: ‘n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Op ‘n vriend wat jou seermaak kan jy reken; iemand wat jou haat is oordadig met sy soene (Spreuke 27:5,6).
Vriendelikheid: Die liefde is vriendeliik. Dit is die enigste keer dat die Griekse woord in die Nuwe Testament voorkom. Maar die bedoeling daarvan word weereens met talle ander tekse uit die Bybel toegelig. Liefde is welwillend en soek die belange van die ander persoon: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Filippense 2:4). Paulus hou sy optrede self as voorbeeld voor in verskille van opinie oor middelmatige sake (! Korintiërs.10:23 – 11:1; sien ook Romeine 14:1-12)..
Afguns: Die liefde is nie afgunstig nie. Dit is die eerste van agt kenmerke waaraan liefde nié moet beantwoord nie. Paulus verwys in die brief na al hierdie sondes wat so maklik by ons voor kom. Afguns, jaloesie (1957-vertaling) kom so maklik voor. In dié brief verwys Paulus verskeie kere daarna. In 3:3 vermaan Paulus hulle oor jaloesie en twis. In 12:15,16 illustreer hy dit met ‘n beeld: As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,…. Omdat die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie…”. 1 Kor. 12:15,16).Let op die ledemate: “voet” en “hand”, en “oor” en “oog”. Wat onder is, is jaloers omdat hulle nie bo is nie, wat agter is, is jaloers omdat hulle nie voor is nie. Minder begaafde lidmate is duidelik jaloers op meer begaafde lidmate, of lidmate wat hulle as meer begaafd ag. Natuurlik kan afguns ook op vele ander terreine die liefde kelder.
Grootpraat en opgeblasenheid (1957-vertaling):Grootpraat en verwaandheid hang nou saam met afguns. In 4:6 het Paulus reeds verwys na die feit dat sommige lidmate sekere leraars aanhang. Die een groep dink verwaand hulle is beter as die ander lidmate wat nie soos hulle dink nie en praat daaroor groot. Telkens sê Paulus dat hulle kennis hulle verwaand maak (5:2; 8:3). Afguns, grootpraat en verwaandheid is ‘n broeiplek van verdere sondes soos verdagmaking, beswaddering, skinder, etikettering, minagting, veroordeling, ens. Dit kom ruimskoots en duidelik voor in ons kerkverband. En in ons gemeente? Ja, ook by ons kom die liefdeloosheid voor!
Dit is duidelik: God skenk aan elke gelowige in ‘n gemeente ‘n besondere vermoë waarmee hy God en sy medegelowiges moet dien. So rus God elke gemeente toe met die gawes wat die gemeente in daardie besondere omstandighede nodig het (1 Kor.1:6; sien ook Eks.31:3,31).
Daar is egter verskeie faktore wat die dienswerk in ‘n gemeente verlam.
1. ‘n Passiewe lidmaat met geen eie bediening in die kerk verwaarloos sy verantwoordelikheid (1Kor.12.7) en begrawe die “geldstuk” wat God aan hom of haar toevertrou het (Mat. 25:26-30).
2. Lidmate wat selfsugtig lewe en op die ontvang-modus ingestel is, benadeel die kerk en homself. Liefde vra selfverloëning en toewyding (12:26).
3. Hoogmoed en die soek van eie eer is die doodsteek van enige bediening (13:1-3).
Die opdrag wat God gevolglik gee, is: Lê julle toe op die beste genadegawes. Dit impliseer dat alle lidmate moet vasstel watter besondere vermoë God aan hulle toevertrou het, en hoe hulle dit ten beste tot voordeel van hul medegelowiges kan aanwend. So word God verheerlik.
In die uitlewing van sy bediening moet hy ook die behoeftes wat in die gemeente bestaan, evalueer en kyk hoe hy met sy besondere gawes iets daaraan kan doen.
In die Korintiese gemeente was daar egter lastige leemtes wat die werk gestrem het.
Daar was lidmate wat nie in die span wou saamwerk nie en hul God-gegewe verantwoordelikhede nagelaat het. Jaloesie en afguns het ‘n uiters nadelige rol gespeel (12:14-18).
Die oogluikende toelaat van lastige en ergelike sondes het die gemeente verlam (5:1-8; 6:9-20).
Onderlinge konflik, kliek- en groepvorming het negatief ingewerk op die bediening van die gemeente (6:1-6; 12:21-26).
Sommige lidmate het hulle eie vermoëns selfverheffend en liefdeloos hopeloos oorskat. Uit die gedeelte oor die geestesgawes weet ons dat die spreek in tale en ongewone klanke, hopeloos oorskat is (14:19, 23-25). Dit het hulle blind gemaak vir die ryke verskeidenheid van gawes wat God in die gemeente gegee het (12:18).
As jou bediening in die gemeente nie gedra word deur liefde nie, is dit waardeloos. Dan is dit niks werd nie. Dit word ‘n grootdoenerige vertoon en is soos niks seggende lawaai (13:1-3).
Ook in die gebruik van jou besondere gawes in die gemeente is dit nodig dat jy jou voortdurend moet afvra:
Gebruik ek my gawe(s) wat God aan my geskenk het tot die eer van sy Naam?
Doen ek dit met die nodige toewyding en liefde tot die voordeel van die ander lidmate, sonder om dit met ander te vergelyk (Gal.6:4).
In die gemeente van Korinte was daar ‘n besondere probleem. Dit spruit ten dele uit die samestelling vban die gemeente. Korinte was ‘n kosmopolitiese hawestad waar wyd uiteenlopende mense gewoon en gewerk het. Daar was ook verskillende stande: rykes, armes, vrymense, slawe (12:13). Mense uit hierdie gemengde bevolking het tot bekering gekom en was lidmate van die gemeente. Dat die meer gegoede lidmate op die armer lidmate neergesien het, is duidelik uit misstande by die die gemeenskaplike maaltyd en nagmaalsviering. As gevolg van onderlinge klasverskille was dit ‘n ernstige probleem. Boonop was die gemeente skerp verdeel in partyskappe wat hulle agter verskillende kerkleiers geskaar het (1:12). Nog ‘n faktor wat ‘n rol gespeel het was die oorbeklemtoning van sekere geestesgawes. As iemand nie in tale gepraat of ongewone klanke voortgebring het nie, is hy as tweedeklas Christen beskou. Paulus wys hierdie liefdelose afkam van lidmate skerp af in 13:1-3. Alle mense is ook nie ewe begaafd nie. Die een het een talent ontvang, die ander vyf (Matteus 25:15).
Meer begaafde en minder begaafde lidmate: Wat is die plig van lidmate wat meer begaafd is, of wat reken hulle is meer begaafd as ander? Paulus gebruik weereens die liggaam as voorbeeld. Die oog wat ‘n belangriker funksie het as die hand, kan nie vir die hand sê: ”Ek het jou nie nodig nie.” Die belangrike kop kan nie vir die minder belangrike voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Sonder ‘n hand of voete is die liggaam gebrekkig. Elke ledemaat het sy plek in die liggaam en het ‘n sekere funksie. “Inteendeel, die lede in die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat ons as minder fatsoenlik beskou, klee ons met groter sorg. So word die onbetaamlike dele met groter betaamlikheid geklee, terwyl die betaamlike dele dit nie nodig het nie.” Die strekking van Paulus se teregwysing is duidelik: die genadegawes wat as minder belangrik beskou word, is juis noodsaaklik. Daarsonder gaan die gemeente mank. Minder begaafde lidmate moet oorvloediger eer ontvang (12:23 – 1957-vertaling). Ook hulle werk is ‘n gawe uit God se hand.
Hoe wyd strek jou liefde? Met die klas- en groepverskille wat in Korinte bestaan het, trek Paulus die beeld verder deur. Paulus gebruik swaar gelaaide woorde met ‘n sterk negatiewe strekking wat ook mense wat geestelik uitsak, kan insluit. In elke gemeente is daar lou en koue lidmate. So dikwels word sulke lidmate uitgeskuif. Teenoor hulle het ons egter ook ‘n verantwoordelikheid om in groot liefde met hulle mee te lewe. Al kan jy nie met al die lou en eenkant-lidmate saamleef nie, is daar tog sekerlikvan hulle wat al jou pad gekruis het. Dit bly ons verantwoordelikheid om met hulle bande op te knoop en met hulle mee te lewe . Liefde bly een van die sterkste positiewe kragte om geestelike swakheid en onfatsoenlikheid te oorwin. Paulus noem dit by die naam: “As een lid ly, ly akl dielede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (12:26). Ook Judas skryf in sy brief: “Oor die wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is” (Judas 22,23). Die eenheid in die liggaam van Christus moet geheel word met die bande van liefde sondre om self van God en sy gemeente weggetrek te word..
In die baie begaafde gemeente van Korinte (1 Korintiërs 1:6) was daar iets wat die werk in die gemeente gestrem het: ‘n verlammende kliekgees. Die besondere gawes van die Gees wat hoog aangeslaan is, word in hoofstuk 13: 1-3 genoem: die spreek in tale, die verkondiging van die boodskap van God, uitsonderlike kennis en offervaardigheid. Hierdie offervaardigheid was egter beperk tot ‘n klein groepie, die geestelike elite van die kerk. Dít wys die ongerymdhede by die viering van die Nagmaal duidelik uit (1 Korintiërs 11:18-21). Daar was ‘n ongesonde najaag van die gawes en ‘n opdringerige gebruik daarvan in die gemeente. Die lidmate wat nie in hierdie gesogte gawes deel nie, is uitgeskuif en as tweedeklas christene beskou. Die gevolg was dat daar ‘n ongesonde wedywering onder mekaar was om ook in dié besondere gawes te deel. Lidmate het op kunsmatige wyse die gesogte gawes nagejaag om sodoende ook in tel te wees. Die beeld wat Paulus gebruik om hierdie strewe na dié “beste genadegawes” aan te dui, word met ‘n komieklike beeld verduidelik. As die voet sou sê: ”Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie.” Hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek nie die oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie”, hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. Let wel: Die onderste ledemaat, die voet, wil graag eerder hoër op wees, nl. die hand. So wil ook die agtertste ledemaat , die oor, graag soos die voorste een, die oog, wees. Paulus wys hoe absurd die strewe is: As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? As die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? …. As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees?
Die oorbeklemtoning van sekere gawes van Gees, en die miskenning of onderskatting van die ander gawes, lei outomatiese tot skeeftrekkings. As die lidmaat met besondere finansiële vaardigheid die toon aangee, maar hy het geen aanvoeling van die uitdra van die evangelie nie, gaan die uitreik na buite skade lei. Wat gaan gebeur as die koster nie sy dienswerk behoorlik verrig nie? Chaos!
‘n Genadegawe of werking van die Gees, is daardie besondere vermoë wat God aan elke gelowige “volgens sy bekwaamheid” skenk (Matteus 25:15). Dit is God wat die lede, elkeen afsonderlik, in die liggaam voeg soos Hy dit wil hê. Met hiertdie werkinge van die Gees dien gelowiges God, sy medelidmate en selfs mense buite die kerklike gemeenskap (Sien Efesiërs 6:6-8; Kolossense 4:22 wat ‘n sprekende voorbeeld gee van hoe God met genadegawes selfs buite die kerklike gemeenskap verheerlik kan word). Die Here rus met sy Gees ambagsmanne toe met vaardigheid, insig en verstand (Eksodus 31:3,6). Die werk wat hulle tot eer van die Here en tot voordeel van almal (1 Korintiërs 12:7) verrig, is net so ‘n gawe van die Gees soos dié van die verkondiger van die Woord van die Here. So kan elke gelowige in dit wat hy doen met die gawes wat die Here aan hom gee, God verheerliking en die voordeel van sy medemens soek (Kolossense 3:17). Elkeen het ‘n roeping en ‘n taak om te vervul. Dit word in die kleingroepkursus “Ontdek jou kerk” heel treffend “Die erediens van die lewe” (p.24) genoem.
Nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam – elkeen het in die liggaam van Christus (die gemeente) ‘n taak waarimee elkeen na sy eie aard en vermoëns in harmonie saamwerk.
Die gemeente in Korinte was ‘n wonderlik begaafde gemeente. Paulus getuig van hulle: Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig dat dit julle nie aan een enkele genadegawe ontbreek nie (1 Korintiërs 1:6). Wat egter hoog uitsonderlik is, is die feit dat Paulus hierdie begaafde gemeente met die intrapslag aanspreek oor hul gebrek aan eensgesindheid. Faksies in die gemeente het hulle geskaar agter verskillende leiersfigure in die kerk (1:10-13). Daarby het die verdeeldheid nie opgehou nie. Hierdie groepering van lidmate rondom ‘n leiersfiguur het later uitgeloop op bitter aanvalle op Paulus (2 Korintiërs 10:10).. Daar was ook ‘n ongesonde kompetisie onder lidmate oor wie die mees begaafde was (4:4-8; 14:26). Van die lidmate het selfs hofsake met mekaar gehad (6:1-8). Verskeie lidmate het van middelmatige sake geskilpunte gemaak (8:4). Selfs by die Nagmaalsviering was daar