Inleidende opmerkings oor die studie van die Ou Testament
Die Christelike geloof is ‘n historiese geloof. Dit beteken eenvoudig dat dit wat ons vandag glo, gebou is op die openbaring wat God van homself deur die geskiedenis heen gegee het. Die teenoorgestelde daarvan is ‘n mitologiese geloof, waar die geloof gebou is rondom die mites van sekere kulture. God het met werklike mense in die werklike verlede bemoeienis gemaak, en doen dit vandag steeds.
Dit natuurlik waar dat daardie openbaring van God af ‘n spesifieke verdieping gekry het deur die stuur van Jesus na hierdie wereld. Die verskil is so groot dat daar van die Ou en Nuwe testament gepraat word.
Daar is verskeie redes waarom die Ou Testament vandag vermy word of dan minstens afgeskeep word. Die meeste wat oorbly is die sg katkisasiestories, soos Adam & Eva, Dawid en Goliat, Noag en die ark, ens. Maar daar is tog ‘n baie diep band tussen die oue en nuwe. Iemand het dit so uitgedruk:
The New is in the Old concealed;
The Old is in the New revealed.
Tog moet mens oplet dat die primęre verwysing van 2 Tm 3: 16 & 17 juis die Ou Testament is : “Die hele Skrif is deur God geďnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”.
Hier is drie belangrike redes waarom die Ou testament nie afgeskeep moet word nie:
Dit keer individualistiese denke
Die moderne mens is ‘n individualistiese wese. Die resultaat is dat die beklemtoning in geloofsake oorleun na die innerlikeen individuele ervaring. Wat Jesus vir my beteken. Die born-again Christian ervaring is voorop. Hierdie beklemtoning vereng die eise van die Here vir die volle omvang van die mens se lewe. Die belewing is belangrik, nie die gehoorsaamheid nie.
Binne hierdie konteks is die Ou Testament, met sy korporatiewe verbondsbenadering, binne die lewe van een volk (Israel), saamgeneem met seremoniële en wettiese leerstellings en gebruike nie baie gewild nie.
Verder leef ons in ‘n a-historiese tyd – bedoelende dat mense nie meer baie belangstel in die verlede nie, die verlede oor die algemeen as sleg beskou en net soek na ‘n beter toekoms. Die probleem hiermee is dat dit ‘n verkeerde siening te weeg bring – asof die mens ‘n beter toekoms kan bou. Die Ou Testament wys juis dat die mens nie daartoe in staat is nie, dat dit telkens God is wat lewe uit die dood gee en dat die geskiedenis op pad is iewers heen – ‘n bestemming deur God bepaal. Sonder die Ou Testament leer jy nie God die Here van die geskiedenis is nie. Jy verstaan nie dat geskiedenis eintlik vertel van God se bemoeienis met die mens nie. As hierdie begrippe nie geleer word (uit die Ou Testament) nie, verstaan jy nie die Evangelie nie, maar word geloof jou persoonlike “prop” om jou regop te hou. Anders gesę, jy kry nie die perspektief van die Koninkryk van God nie.
Positiewe selfbeeld psigologie
Gelowiges wil die Skrif (tereg) op hulleself toepas, maar die Ou Testament is moeilik om toe te pas. Enersyds leer die Ou Testament dat die mens nie so goed is as wat die moderne sielkunde hom wil voorstel nie. Daar is te veel sonde, oordeel en vieslike lewens. Dit stem ons nie positief nie. Ons hoor selfs die stemme van mense wat sę hulle laat hulle kinders nie toe om die Ou Testament te lees nie, die “rating” daarvan is nie goed vir kinders nie. Ons word geleer dat ons die antwoorde in onsself het, dat elkeen die potensiaal het om homself te verbeter en realiseer. Maar die Ou Testament leer dat daar iets inherents fout is met die mens.
Tweedens is daar soveel bloed en derms in die Ou Testament dat dit die moderne leser daaruit sekere afleidings oor God maak – dat Hy in die Ou Testament ‘n wrede God is, en daarom leer ons liewer van “Liewe Jesus” in die Nuwe Testament! Hiervolgens het die Ou Testament ‘n negatiewe betekenis en dis die Nuwe Testament positief. Dit is egter niks anders nie as die ou Marcionistiese leer nie – die God van die Ou Testament is ‘n demiurg, en die Ou Testament kan maar weggegooi word. Jesus is die eintlike God wat die Ou-Testamentiese indringer God oorwin het. Hierdie benadering lees egter beide testamente verkeerd – God se oordeel kom in beide na vore, maar ook sy liefde en genade.
Antinomianisme
Dit beteken “om teen wette en reëls te wees”. Daar is ‘n negatiewe benadering ten opsigte van alles wat God se wet betref. Ons leef in die tyd van genade. Dit word vererger deur twee sake: In die prediking word die wettisisme van die Fariseërs en Skrifgeleerdes dikwels van die preekstoel af aangeval. Dit skep soms die indruk dat die wet verkeerd was, maar dit is slegs hierdie geleerdes se verklaring en toepassing van die wet wat in Jesus se visier is. Tweedens word die vervulling van die wet (veral seremonieel en staatkundig) beklemtoon, wat maak dat die indruk ontstaan dat die morele wet ook nie meer ‘n plek het in die Nuwe Testament nie. Maar die seremoniële en staatkundige wette het steeds ‘n heenwysing na God se heiligheid en die politieke wette na sy geregtigheid. Daardie beginsels is steeds relevant. Die morele wette het egter in Christus ‘n ander beklemtoning gekry, naamlik heiligheid, maar dan uit dankbaarheid. Dus – dié wette is juis tekenend van die groei in heiligmaking – iets wat in die moderne Christenskap soms nie genoegsaam beklemtoon word nie. Die resultaat is ‘n geloof wat eintlik grens aan eiewillige godsdiens – ‘n oortreding van die 2e gebod. Dit is binne hierdie sfeer wat immoraliteit hoogty vier – ook in die kerk. Saamwoon, homoseksualisme, aborsie op aanvraag, nie-aanvaarding van gesag en vele meer is aan die orde van die dag – nie net onder lidmate nie, maar selfs ook onder kerkleiers. Die dinge het ‘n interessante pad geloop – eers van “sonde” na “siekte” na “normaal”. Daar word egter vergeet dat Jesus as Regter terugkom (2 Tim 4: 8).
I Samuel
Hierdie dinge het spesifieke betrekking op ons boek van studie – want hier kry ons te make met wette, seremonie, sonde, eise van heiligheid, ens so meer. Ons gaan dus hier leer oor korporatiewe en individuele heiligheid voor God – hoe daar geleef word binne sý Koninkryk! En die eis kom na regte mense, net soos ons regte mense is. Uiteindelik wys I Samuel hoekom Jesus nodig was!
Hoofsake in die boek
Die boek oorspan ‘n tyd van ongeveer ‘n eeu – 100 jaar van die geboorte van Samuel tot die dood van Saul. Samuel was tydgenoot van Simson. Hierdie is dus die tyd van die doodsnikke van die rigters-era (waar elkeen gedoen het wat goed was in sy eie oë), en die eerste treë van die konings-era. Daar is drie hooffigure – Samuel, Saul en Dawid.
Teokratiese monargie
Die ontstaan van die monargie het nie net staatkundige en sosiologiese implikasies vir Israel gehad nie , maar ook teologies, geestelik en eskatologies. Teologies het dit die regering van God oor sy volk erken en bevestig. Dit het geestelike aspekte omdat dit die geloof beskryf van hulle wat die Here liefhet en Hom as sy dissipels volg en dit si eskatologies omdat dit vooruitwys na die finale Koninkryk van God, wat deurbreek in Jesus, maar sy uiteindelike sin kry met die wederkoms. Baie van die psalms – wat ook sterk Messiaans gerig is – ontstaan in hierdie tyd!
Absolute soewereiniteit van God
Die sigbare oorloë van die boek is eintlik ‘n herinnering aan die oorlog agter die skerms – die stryd tussen die Koninkryk van God en die magte van die Satan. En hierdie stryd van die Satan is nie net teen God en die engele nie, maar teen mense van vlees en bloed – teen God se volk, teen my en jou! Maar die boek leer ons dat God in beheer bly, mense se planne omverwerp en uiteindelik sý koninkryk laat deurbreek. Hy toon Homself op hierdie manier aan sy volgelinge, wat getroos word deur die Koning van konings.
Die triomf van God se regverdigheid
Die boek teken die sonde in sy felheid. En die loon van die sonde is die dood. Sonde “werk” nie. Maar waar daar berou is, is daar genade. Dit wys heen na die verlossing in Christus.