| Visie en Missie |
| Reeds voor die eenwording van die gemeentes is daar begin met ’n proses van strategiese beplanning. Die kerk is geen besigheid nie, maar moet ook tog van goeie verstand gebruik maak om sy verantwoordelikhede te bepaal en te omskryf. Ons visie is: Om God deur voortdurende metamorfose te verheerlik. Ons missie is om die Benoni-gemeente’n plek te maak waar lidmate in liefde toegerus, gemotiveer, gelei en geleentheid gegee word om metamorfose te ondergaan sodat elkeen se roeping uitgeleef kan word. “Metamorfose” is ontleen aan Rm.12: 2 (Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is). Alhoewel die strategie nog in wording is, is die volgende breë riglyne reeds aanvaar: 1. Ons absolute fondament is die Woord van God. Die Skrif gee alle beginsels nodig vir die kerk en sy lidmate se lewens- en wêreldbeskouing op ’n persoonlike en korporatiewe vlak. Ons buig onvoorwaardelik voor die Woord van God. Terselfdertyd glo ons dat die kerk funksioneer binne ’n spesifieke konteks. Ons konteks is die vroeë 21e eeu, en ons glo dat die Woord effektief en relevant aan hierdie mense in hulle konteks bedien moet word. Ons maak graag van hedendaagse hulpmiddels gebruik om die Woord te kommunikeer (Powerpoint, Facebook, ens). 2. Ons glo dat ons ’n evangeliserende (missionêre) kerk moet wees. Ons het ’n opdrag en vreugde om die Woord uit te dra aan afvalliges en ongelowiges. Alhoewel daar al verskeie projekte in hierdie verband geloods is, is hier nog baie ruimte vir verbetering. 3. Ons wil ook diens lewer, in die gemeente maar ook in die gemeenskap. Ons wil graag die punt bereik waar ons onmisbaar is in ons omgewing deurdat ons die dienende gestalte van Christus self vertoon. 4. Ons glo dat die onderlinge gemeenskap (koinonia) van kardinale belangrikheid is in ’n gemeente. Die koinonia word op verskeie maniere bewerk, en ons begin stadigaan beweeg na wyke wat terselfdertyd ook kleingroepe is. Ons het ’n stuk of ses funksionerende kleingroepe in die gemeente. Die leiers ontvang Sondae opleiding (by een van die predikante) om met die lede van die kleingroep ’n spesifieke saak tydens die byeenkoms (weekliks) te behandel. Daar is ’n sterk beklemtoning van die koinonia tydens hierdie kleingroepe se byeenkomste. 5. Die laaste pilaar in ons strategie is “geestelike groei”. Daar is natuurlik verskeie bedieningsareas waar hierdie saak aangespreek word: prediking, katkisasie, huisbesoek, pastoraal, Bybelstudies en ander.
Huidige toepassing van strategieVir 2011 het die predikante besluit, na oorleg met die kerkraad, om bogenoemde visie deur sekere korttermynbeklemtonings te bevorder. Na aanleiding van Hb. 5:11 - 6:3 is hierdie jaar se tema vir die gemeente geformuleer as: “Ons vier fees aan die vaste kos van God se Woord”. Ons omskryf dit só: Synde ons graag as gemeente die liggaam van Christus wil vergestalt, wil ons binne die strategiese raamwerk die gemeente lei om volwasse ledemate (lidmate) van die liggaam van ons Here Jesus Christus te wees. Met hierdie doelwit voor oë wil ons poog om nie stil te staan by die bediening van melkkos nie, maar die gemeente te voed met die vaste kos van God se Woord sodat die geloof verder mag opgroei (geloofsgroei), die volwassenheid sigbaar mag word in uitreik na ongelowiges/verhardes (evangelisering), om diensbaar te wees vir die nood van die gemeenskap (dienslewering) en om die onderlinge liefdesband in die gemeente te versterk (koinonia, vgl Kol 3:14). ’n Uitreikprojek word in die vooruitsig gestel waarbinne die vier pilare van ons bedieningsareas in 2011 praktiese neerslag kan vind (Koningskinders). |

